Artikel

Hooggeregshof bevestig dat Mpumalanga-onderwysdepartement, vakbonde regte van leerders van Estralita-spesiale skool skend; dringende hofinterdik toegestaan

01/08/2023 - Fedsas


Die optrede van vakbondlede wat weier om nag- en naweekskofte te werk, asook die versuim van die Mpumalanga-onderwysdepartement om teen die werkers op te tree, ontneem leerders van die Estralita-spesiale skool van hul grondwetlike reg op onderwys.

Dit is die bevinding van die Mpumalanga-hooggeregshof in ’n aansoek deur die Federasie van Beheerliggame (FEDSAS), die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) en die Estralita-skoolbeheerliggaam. Die aansoek is voor die hof gebring as laaste uitweg om arbeidsonrus wat reeds vir meer as ’n jaar duur, op te los. Die skool was vir die hele tweede kwartaal van vanjaar gesluit, hoofsaaklik omdat skofwerkers weier om nag- en naweekskofte in die koshuise te werk. Die ernstige intellektuele uitdagings van die leerders verg die teenwoordigheid van minstens twee skofwerkers en ’n opvoeder tydens nag- en naweekskofte in die koshuise.

Estralita bied onderrig van graad R tot 6 vir leerders met ernstige intellektuele gestremdhede. Die skool huisves tans sowat 200 leerders tussen die ouderdomme van vyf en 21, met die meeste van die leerders wat in die skool se twee koshuise versorg word. 

“Die hof het ’n tussentydse interdik toegestaan wat die Mpumalanga-onderwysdepartement, en spesifiek die LUR en die departementshoof, verplig om onmiddellike stappe te neem. Dit sluit in die verkryging van alternatiewe dienste om seker te maak dat koshuisleerders toegang tot gespesialiseerde versorging het,” sê me. Juané van der Merwe, adjunkhoof van FEDSAS, en mnr. Chris Klopper, uitvoerende hoof van die SAOU.

Die hof verplig ook die provinsiale onderwysdepartement om ondersoek in te stel na enige wangedrag deur die skofwerkers, en om dissiplinêre stappe te neem waar nodig. ’n Tussentydse interdik is ook teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens toegestaan om lede te verplig om enige ontwrigtende aksies deur skofwerkers op die perseel van Estralita te voorkom.

Die saak kom weer op 22 Augustus vanjaar voor. Die Mpumalanga-onderwysdepartement en die betrokke vakbonde moet dan redes aanvoer waarom die bevel nie ’n permanente bevel van die hof gemaak moet word nie.

FEDSAS en die SAOU is dit eens dat die aangeleentheid lankal opgelos sou kon wees as die provinsiale onderwysdepartement van die begin af leierskap getoon het. “Dit is ondenkbaar dat die Mpumalanga-onderwysdepartement vir meer as ’n jaar bloot net toegekyk het hoe vakbonde kwesbare leerders as pionne in ’n magstryd gebruik. Die optrede van die skofwerkers is eweneens laakbaar en het nie net die leerders van hul reg op onderwys ontneem nie, maar ook hul veiligheid bedreig.”

Toegewyde amptenare, opvoeders en werkers is nodig vir die onderwysstelsel om optimaal te funksioneer. FEDSAS en die SAOU stem saam dat dit tyd is om individue persoonlik aanspreeklik te hou waar die skending van die regte van kinders ter sprake is.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid