Artikel

Hier is FEDSAS se voorstelle om skoolbestuur professioneel te benader

21/11/2022 - Fedsas


Daar is meer aan skoolwetgewing as net taal- en toelatingsbeleid. En hoewel hierdie aspekte uiters belangrik is, is kommentaar oor ander wysigings en tekortkominge noodsaaklik.
“Skoolwetgewing is ’n instrument wat gebruik word om gestalte te gee aan openbare onderwys. Die instrument moet in geheel bevorderlik wees tot gehalte-onderrig. ’n Skoolbeheerliggaam se werk verskil nie veel van dié van ’n direksie of soortgelyke bestuursraad nie. Wetgewing moet dus die hele spektrum van skoolbestuur rig sodat dit vir ’n beheerliggaam die ruimte skep om alles van finansiële aspekte en menslike hulpbronne tot beleid oor taal en toelating te kan bestuur,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS. FEDSAS het reeds omvattend kommentaar gelewer oor die voorgestelde wysigings rakende taal- en toelatingsbeleid.


Deacon sê daar is egter ook ander wysigings en tekortkominge waaroor besin moet word. “Van hierdie wysigings lyk op die oog af na kleiner tegniese wysigings, maar vir diegene met ’n deeglike kennis van skoolbestuur is dit dadelik duidelik wat die impak van sulke wysigings, of gebrek daaraan, sal wees.”


Een só ’n aspek is hoe ’n skool se kapasiteit bepaal word. “Die letterlike implikasie hiervan is hoeveel kinders daar in ’n klaskamer is. Die groter prentjie is dat daar steeds hopeloos te min skole in sommige dele van die land is, en veral skole wat gehalte-onderrig bied. Ouers en voogde wil natuurlik graag hul kinders in goeie skole plaas, wat nie noodwendig altyd die naaste skool is nie.”


FEDSAS is van mening dat duidelike bepalings oor die vasstel van ’n skool se kapasiteit een van die tekortkominge in die wysigingswetsontwerp is. “Objektiewe kriteria is hiervoor nodig. FEDSAS het reeds ’n voorstel met riglyne opgestel. Ons moet ook die geleentheid gebruik om die lesse te implementeer wat ons gedurende die pandemie geleer het. FEDSAS stel voor dat alternatiewe maniere van onderrig ook beskikbaar gestel word, insluitend hibriede modelle. Dit sal die kapasiteitsprobleem aanspreek en skole in digbevolkte gebiede in staat stel om meer leerders te akkommodeer.”


Nog ’n voorstel wat tot voordeel van ’n model van samewerkende bestuur sal wees, is die insluiting van ’n bepaling oor verpligte nasionale en provinsiale raadgewende forums vir nasionale beheerliggaamorganisasies. Deacon sê FEDSAS was instrumenteel in die vestiging van die Nasionale Raadgewende Forum, wat al vir meer as 20 jaar kwartaalliks met die nasionale departement van basiese onderwys vergader. “Dit is belangrik dat hierdie forum, ook op provinsiale vlak, ’n formele wetlike vereiste raak. Dit sal aan beheerliggame ’n platform bied vir interaksie met provinsiale departemente en die minister van basiese onderwys. Die wysigingswetsontwerp is die ideale geleentheid om so ’n bepaling in te sluit.”
Gestandaardiseerde finansiële bestuur vir skole is noodsaaklik, maar dit is afhanklik van behoorlike wetlike bepalings. “Tans word ander wetgewing, insluitend die Wet op Openbare Finansiële Bestuur en regulasies van die Tesourie, op skole afgedwing. Dit is nie op skole van toepassing nie. Boonop is provinsiale riglyne so vol ongerymdhede en teenstellings dat dit die vraag laat ontstaan of provinsiale departemente werklik die kundigheid het om so ’n funksie te vervul. Een provinsie bepaal selfs dat onttrekking van kontant vir die kleinkas deur middel van ’n deposito in ’n opvoeder se private rekening moet plaasvind.”


Deacon sê FEDSAS stel voor dat die wetgewing gewysig word sodat die Minister van Basiese Onderwys in konsultasie die riglyne bepaal ingevolge waarvan ’n beheerliggaam ’n skool se fondse moet bestuur en nie elke provinsiale departement nie. Dit is ook in lyn met die bepaling dat beheerliggaamverkiesings se bepalings ook deur die minister uitgevaardig moet word en nie die provinsiale LUR nie.


Waarskynlik een van die grootste uitdagings vir onderwysbestuur is konflik tussen nasionale en provinsiale regulasies. “Elke provinsiale onderwysdepartement het ’n ander interpretasie van nasionale wetgewing. Nie alleen is dit soms lomp nie, maar in baie gevalle druis dit direk in teen die gees van die Suid-Afrikaanse Skolewet en ander nasionale regulasies,” sê Deacon.


Dit is belangrik dat wetgewing gewysig moet word sodat die Skolewet en ander nasionale regulasies eenvormig deur provinsies toegepas word. “Die Skolewet moet die bepalende faktor wees. Dit sal tot voordeel van leerders wees en verskeie skoolbestuurfunksies, soos beheerliggaamverkiesings, taal- en toelatingsbeleid en finansiële bestuur, sal dieselfde uitgevoer kan word ongeag die provinsie.  Ons kry dieselfde soort bepaling in die Wet op Arbeidsverhoudinge.”


“Skoolbestuur moet professioneel benader word. Daarvoor is wetgewing nodig wat ’n raamwerk skep waarbinne toegewyde, professionele rolspelers hul taak met kundigheid tot voordeel van leerders kan uitvoer. FEDSAS is die leier in skoolbeheer en -bestuur en het oor byna drie dekades heen al herhaaldelik bewys dat die organisasie konstruktiewe bydraes tot onderwys lewer.”
 

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid