Artikel

Gauteng-onderwysdepartement verander deuntjie oor kapasiteit ná FEDSAS-ingryping

01/09/2023 - Fedsas


Die Gauteng-onderwysdepartement se vinnige terugtrek van ’n absurde besluit oor skole se kapasiteit ná druk deur FEDSAS is ’n bewys dat gevestigde rolspelers met bewese kundigheid ’n toenemend belangrike rol gaan speel met onweerswolke wat saampak oor die Wysigingswetsontwerp oor Onderwyswette (Bela).

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) het dadelik reageer nadat die Gauteng-onderwysdepartement ’n eensydige besluit oor skole se kapasiteit deurgevoer het. Verskeie skole in die provinsie is vandeesweek deur die provinsiale onderwysdepartement ingelig dat hierdie skole onder kapasiteit is en in sommige gevalle etlike honderde leerders meer moet akkommodeer.

FEDSAS het in ’n brief aan die provinsiale onderwysdepartement die bepaling van kapasiteit in geskil geplaas en ’n versekering van die departement geëis dat ouers en voogde nie volgende Maandag (4 September 2023) oor plasings vir volgende jaar ingelig word nie, aangesien dit tot chaos en onrealistiese verwagtinge sal lei.

“Die Gauteng-onderwysdepartement het vandag (1 September 2023) by monde van die waarnemende onderwyshoof, mnr. Rufus Mmutlana, laat weet dat plasings vir volgende jaar sal geskied ingevolge die kapasiteit wat skole sélf aangedui het. FEDSAS is dankbaar dat die absurde besluit teruggetrek is. Ons onderneem ook om ons lede aan te moedig om met die departement in gesprek te tree waar daar redelike versoeke van die departement is,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS. 

Deacon sê hoewel die toelatingsproses in Gauteng steeds voortgaan, sal dit op meer realistiese getalle gebaseer wees. “FEDSAS hou egter die hele toelatingsproses fyn dop. Ons sal nie huiwer om op te tree sou onderwysamptenare weer probeer om hul magte te oorskry of skole te boelie nie.” 

Op ’n FEDSAS-ledevergadering in Gauteng gisteraand (31 Augustus 2023) het skole aangedui dat hulle gereed is om ’n hofaansoek te steun sou dit nodig wees. “As FEDSAS nie toegetree het nie, sou die provinsiale departement eenvoudig oor skole geloop het. Dit is steeds ’n groot bron van kommer met betrekking tot sommige bepalings in Bela.”

Deacon sê hoewel FEDSAS-lidskole en FEDSAS se kundige span toegerus en op die voorvoet is vir moontlike onregmatige optrede, is daar steeds duisende openbare skole wat nie voorbereid of ingelig is oor waarvoor om op die uitkyk te wees nie. “FEDSAS het reeds ’n gerekende regspan aangestel vir ’n moontlike hofgeding sou Bela wet word. Skole moet egter nie terugsit en dink dit is genoeg dat organisasies soos FEDSAS die stryd namens almal opneem nie. Skole sal moet begroot vir hul eie regskoste en dit is hier, op grondvlak, dat kundige bystand noodsaaklik is. FEDSAS is al vir meer as 30 jaar ’n gerekende kollektiewe stem vir beheerliggame wat lid is van die organisasie. Hoe sterker hierdie stem egter is, hoe groter die kans op sukses.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid