Artikel

FEDSAS steun slegs program vir tydelike onderwys assistente indien bestaande probleme behoorlik aangespreek word

30/09/2021 - Fedsas


Terwyl jeugdiges reeds kan aansoek doen vir derduisende tydelike poste as deel van fase 2 van die Departement van Basiese Onderwys se indiensnemingsinisiatief, heers daar groot kommer omdat min van die probleme wat met fase 1 van die regering se sogenaamde BEEI-program opgeduik het, aangespreek is. Die Departement van Basiese Onderwys het vandeesweek aangekondig dat fase 2 van die indiensnemingsinisiatief (Basic Education Employment Initiative of BEEI) nou oop is vir aansoeke. Dit vorm deel van president Cyril Ramaphosa se presidensiële indiensnemings-stimulusprogram.


“Sowat 300 000 tydelike onderwysassistente is einde verlede jaar as deel van fase 1 aangestel. Die hele program was ondeurdag en het groot druk op skole geplaas. Daar was probleme met betalings en kontrakte en ? gedeelte van die program was gedurende Desember en Januarie tydens die skoolvakansie,” sê dr. Jaco Deacon, waarnemende uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS). 


Deacon sê hoewel rolspelers genader is om kommentaar te lewer voor die implementering van fase 2 is geen van die kwessies behoorlik aangespreek nie. “In talle provinsies is skoolhoofde gedwing om ongemagtigde en onwettige betalings aan die jeugdiges te maak omdat die provinsiale onderwysdepartemente nie hul kant gebring het nie. Boonop is van skole verwag om die tydelike werkers op te lei en besig te hou en skole is ook gedwing om meer jeugdiges te akkommodeer as wat toegelaat word ingevolge Covid-protokol.”


Deacon sê fase 1 van die inisiatief was chaoties en het getuig van swak beplanning en swak bestuur. “Dit het die beeld van onderwys net verdere skade berokken.” FEDSAS ondersteun die projek as 'n sosiale program in skoolgemeenskappe, eerder as 'n onderwysprojek. “Ons het geweldig baie empatie met werklose jeugdiges, veral omdat talle van hulle redelik onlangs nog deel van die skoolstelsel was. Hulle sal egter baat vind by 'n meer gestruktureerde program waarin hulle werklike werkservaring kan opdoen, eerder as wat nou lyk na net nog 'n maatskaplike toelaag.”


In 'n brief aan die Departement van Basiese Onderwys maak FEDSAS 'n gedetailleerde en deurdagte voorstel vir fase 2 en spel ook die rol van skoolbeheerliggame in die inisiatief uit. “Die huidige implementeringsraamwerk bevat verskeie wetlike teenstrydighede en foute, wat talle probleme in terme van arbeidswetgewing kan meebring.” FEDSAS bied ook aan om ondersteuning te bied met die opleiding van skoolbeheerliggame en ander betrokkenes.


“Die tydsberekening só kort voor die plaaslike regeringsverkiesing is reeds verdag. FEDSAS sal graag wil glo dat die inisiatief werklik op werkskepping en armoedeverligting gefokus is, eerder as politieke gewin,” sê Deacon. “Skoolbeheerliggame staan in 'n vertrouensverhouding teenoor skole en hierdie projek kan dus slegs binne hierdie konteks ondersteun word. Dit is belangrik om te onthou dat die waarde vir skole swaarder moet weeg as enige ander faktor – selfs al is dit 'n presidensiële inisiatief.


“Skole sal baie meer by die projek baat as die jongmense tydens 'n skoolkwartaal by die skool is en nie gedurende die lang Desember-skoolvakansie nie. Ons moet ook weet wie die werkgewer gaan wees – dit bepaal die stel wette wat op die verhouding van toepassing sal wees.” FEDSAS sal fase 2 van die indiensnemingsinisiatief slegs ondersteun indien alle kwessies behoorlik aangespreek word.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid