Artikel

FEDSAS verwelkom gerespekteerde George Moroasui as Nasionale Ontwikkelingsbeampte

09/06/2023 - Fedsas


Met die regte mense kan enige doelwit bereik word. Hierdie benadering is lank reeds die wenresep vir die sukses van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS).

          

“Met die aanstelling van George Moroasui as Nasionale Ontwikkelingsbeampte versterk ons die FEDSAS-span verder met ’n gerekende en erkende kundige in Suid-Afrikaanse onderwys,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS. 

          

“Dit is ’n groot belegging in mensekapitaal, wat ’n bate is waaraan aan FEDSAS baie waarde heg. Benewens sy professionele waarde, is George vlot in nege van ons 11 amptelike tale. Meertaligheid is maar een van die vaardighede wat nodig is om toe te sien dat FEDSAS, en eintlik enige organisasie in Suid-Afrika, bydra tot ’n meer samehorige samelewing.”

          

“As Nasionale Ontwikkelingsbeampte sal ek veral fokus op opleiding en om FEDSAS se reeds indrukwekkende opleidingsportefeulje uit te brei en toeganklik te maak vir soveel as moontlike skoolbeheerliggame,” sê Moroasui. “Een van my eerste groot projekte is natuurlik volgende jaar se skoolbeheerliggaamverkiesing en veral FEDSAS se SBL-opleiding vir nuutverkose beheerliggame. Een van FEDSAS se doelwitte is om opleiding uit te brei na lidskole met inheemse tale as onderrigtaal,” sê Moroasui.

          

Moroasui is ’n toegelate prokureur met meer as 15 jaar se ervaring in senior bestuursposisies by die Suid-Afrikaanse Raad vir Opvoeders. Sy mees onlangse posisie was dié van Bestuurder van Regsake en Etiek. Hy het ook bewese ervaring van advies- en litigasiedienste aan munisipale, provinsiale en staatsdepartemente, hy is ’n kundige oor korporatiewe bestuurskwessies en was ook as dosent in die akademie betrokke.

          

“FEDSAS gaan beslis baat vind by George se uitgebreide ervaring en kundigheid. Die feit dat hy ingestem het om deel van die FEDSAS-span te word, is ’n bevestiging van die aansien wat die organisasie geniet in onderwyskringe,” sê Deacon. “FEDSAS is reeds die leier in skoolbeheer en -bestuur in Suid-Afrika en geniet ook internasionaal erkenning. ’n Organisasie is net so goed soos sy mense en FEDSAS sien dit as ’n uitdaging om die beste onderwyskenners by die span te betrek. Op dié manier verseker ons nie net gehalte-dienste aan lidskole nie, maar stel ons onsself ook oop vir ander sienings en nuwe maniere van doen.”



Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid