Artikel

FEDSAS: Dertig jaar aan die voorpunt van beheer en bestuur in onderwys

27/11/2023 - Fedsas


Ons behoort. Met hierdie fokus het FEDSAS (die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole) vanjaar onder meer seker gemaak dat elke lidskool weet dat hulle deel vorm van die FEDSAS-familie. FEDSAS-bestuurders het meer as 4200 skoolbesoeke gedoen om lede by te staan met moeilike besluite én om hul suksesverhale te hoor.

“Om te voel dat jy iewers hoort, is vandag een van die belangrikste boustene vir sukses. In ’n samelewing waar ons maklik oorweldig word deur inligting, en waar dit moeilik is om die koring van die kaf te skei, is daar soveel waarde in ’n gemeenskap wat mekaar ondersteun,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS.

FEDSAS vier vanjaar sy 30ste bestaansjaar en die organisasie se algemene jaarvergadering het die afgelope naweek (25 November 2023) plaasgevind. “Die verslae van elke afdeling van FEDSAS wys dat hierdie jaar ook aan FEDSAS behoort het. Ons toegewyde personeel het ’n merkbare verskil in elke provinsie gemaak. Ons is geweldig trots op die kultuur van ondersteuning en die positiewe impak wat ons maak.”

FEDSAS het vanjaar verskeie belangrike hofsake namens skole gedryf terwyl die span onderwysregkenners ook 19 nuwe beleidsdokumente vir skole met leerders met spesiale onderwysbehoeftes ontwikkel het. Die organisasie het al 27 openbare verhore oor BELA (die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette) bygewoon en kommentaar gelewer. “Hierdie stryd is nog ver van voltooi en FEDSAS werk saam met ander belangegroepe aan moontlike regsaksie om die grondwetlikheid van BELA te toets.”

Deacon sê opleiding en steun aan lede van skoolbeheerliggame bly een van FEDSAS se kerntake. Buiten vir die duisende skoolbesoeke, is 53 aanlyn-geleenthede aangebied, met meer as 6600 afgevaardigdes. FEDSAS se Sentrum vir Tegnologie het vanjaar verskeie gratis webinare aangebied om skole te help om te besin oor die gebruik van kunsmatige intelligensie in die onderwysomgewing. Terselfdertyd het die Sentrum vir Finansies en Risikobestuur produkte ontwikkel en opleiding aangebied om skole met finansiële bestuur by te staan. Die bekendstelling van ? nuwe fondsinsamelingsprojek vir skole, Sim4Schools, was een van die hoogtepunte. 

“FEDSAS het ook langdiens-erkenning gegee aan die bydraes van ses personeellede wat gesamentlik meer as 65 jaar se diens aan die organisasie gegee het. Nie net bied sulke ervaring ’n unieke voordeel aan ons lede nie, maar dit is ook ’n bevestiging van die interne ‘gevoel van behoort’ wat ’n kenmerk van die FEDSAS-span is,” sê Deacon.

“Vir FEDSAS is samewerking met ander rolspelers van kardinale belang. Die organisasie se benadering berus op konsultasie en onderhandeling. En in hierdie opsig gee ons ook erkenning aan organisasies en individue wat ’n positiewe bydrae maak tot onderwys in Suid-Afrika. 

“Vanjaar het FEDSAS ’n oorkonde toegeken aan Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU). Chris lê vanjaar die tuig neer ná meer as drie dekades in die onderwyssektor. Sy bydrae tot die vakbondwese en skoolbestuur in Suid-Afrika is van onskatbare waarde. Hy het in talle opsigte die grondslag gelê vir die model en standaard vir die effektiewe funksionering van ’n moderne onderwysvakbond. Chris was ook die gasspreker by die geleentheid.”

Deacon sê FEDSAS se fokus vir 2024 is “skep geleenthede”. “Ja, die onderwysstelsel word deur baie uitdagings in die gesig gestaar. Maar die anderkant van daardie munt is al die geleenthede wat daar is. Vir 30 jaar al is FEDSAS aan die voorpunt van beheer en bestuur in onderwys. Dit is net moontlik omdat die FEDSAS-span van vandag kan bou op die grondslag van innovering wat deur ons voorgangers gelê is. Volgende jaar se beheerliggaamverkiesing is juis een van daardie geleenthede.”


FOTO: Dr. Shaun Mellors (regs), nasionale voorsitter van FEDSAS, oorhandig ’n oorkonde aan mnr. Chris Klopper van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie vir sy enorme bydrae tot onderwys in Suid-Afrika.


Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid