Artikel

FEDSAS soek dringende ondernemings oor Bela-wetgewing van parlementêre portefeuljekomitee: ‘Wys ons dat alle openbare kommentaar oorweeg is, of stel dit dadelik reg’

19/08/2023 - Fedsas


Luidens verskeie berigte blyk dit dat tussen 6 000 en 9000 openbare voorleggings en kommentaarbydraes oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette, algemeen bekend as Bela, nie geanaliseer en oorweeg is deur die parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderwys nie. 

“So iets sal neerkom op skokkende politieke magsmisbruik en ’n vertrapping van enige aanspraak op demokratiese burgerlike deelname,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS). FEDSAS was vir die afgelope meer as ses jaar deurlopend betrokke by hierdie proses en het die organisasie se internasionaal gerekende onderwysreg-kundigheid tot beskikking van rolspelers gemaak om toe te sien dat die wysigings tot voordeel van onderwys in Suid-Afrika is.

“Dit is uiters kommerwekkend dat openbare deelname, wat ? integrale deel van Suid-Afrika se grondwetlike demokrasie vorm, nou moontlik gemanipuleer is om Bela op die wetboeke te kry sonder dat ernstige tekortkominge aangespreek is.”

Deacon sê FEDSAS het daarom ’n dringende skrywe aan die voorsitter van die portefeuljekomitee oor basiese onderwys, me. Bongiwe Pricilla Mbinqo-Gigaba, gerig waarin FEDSAS verskeie ondernemings van die komitee eis.

“Ons wil eerstens ’n onderneming van die komitee hê dat alle kommentaar en voorleggings wel aan die komitee voorgelê is en verwerk is. Ons versoek ’n omvattende verslag waarin die uiteenlopende aard van die openbare menings aangedui word. Hierdie verslag moet aan die Nasionale Vergadering vir oorweging voorgelê word.”

Deacon sê FEDSAS vra ook dat, indien gerugte waar is dat nie alle kommentaar in ag geneem is nie, die portefeuljekomitee hierdie oorsig onmiddellik sal reg stel. 

“Indien die komitee nie hierdie ondernemings kan gee nie, versoek ons dat die komitee aan FEDSAS en die publiek sal verduidelik hoekom alle openbare kommentaar nie in berekening gebring is nie. Deursigtigheid is ’n allernoodsaaklike aspek van demokratiese regering,” sê Deacon.

Hoewel FEDSAS deurentyd gepoog het om op ’n positiewe en opbouende wyse bydraes tot Bela te lewer, is regstappe nooit uitgesluit nie. “FEDSAS as organisasie is verbind tot die beginsels van ons demokrasie soos dit vervat is in die Grondwet. Sou dit duidelik word dat hierdie beginsels nie net misken is nie maar aktief ondermyn is, sal FEDSAS nie huiwer om hom op die regstelsel te beroep nie.”

FEDSAS het baie ure daaraan bestee en die organisasie se omvattende ervaring van onderwys op grondvlak ingespan om herhaalde voorleggings te maak en kommentaar te lewer op verskeie aspekte van Bela. “Ons het nie net uitgewys waar aspekte kommerwekkend is nie, maar ook so ver gegaan om voorstelle, gebaseer op navorsing en kundigheid, te maak oor hoe hierdie aspekte verbeter kan word. So ook is daar duisende ander bydraes deur ander rolspelers en belanghebbendes gemaak. As dit nou aan die lig kom dat hierdie openbare bydraes bloot in die snippermandjie beland het, is dit ’n donker dag vir die demokratiese proses in ons land en sal die President dringend moet ingryp.”


Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid