Artikel

FEDSAS vra vir antwoorde van Departement van Basiese Onderwys oor beskermende toerusting, insluitend maskers, aan skole

03/11/2020 - Fedsas


Teenstrydige boodskappe oor die verskaffing van maskers aan skole dra by tot wat reeds ’n bykans onmoontlike situasie is. In die voorlegging aan die Parlementêre Portefeuljekomitee oor die heropening van skole het die Departement van Basiese Onderwys aangedui dat maskers slegs verskaf sal word aan kwintiel 1-4 skole.
           
“In ons aanvanklike vergaderings met die departement is aangedui dat skole nie enige sanitasie- of higiëne-toerusting hoef aan te skaf nie en dat hierdie sanitasiepakkette aan alle skole, ongeag die kwintiel, verskaf sou word. In ’n vergadering Sondag (26 April 2020) tussen die Minister van Basiese Onderwys en beheerliggaamorganisasies het die minister aangedui dat kwintiel 4- en 5-skole eenmalig maskers sal ontvang,” sê mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS).
           
Colditz sê hy het reeds ’n brief aan die Departement van Basiese Onderwys gestuur om daarop aan te dring dat die besluit hersien moet word. “Baie leerders in kwintiel 5-skole kom uit behoeftige gesinne en hul ouers is vrygestel van skoolfondsbetaling. Bykomend moes heelwat van hierdie skole reeds beheerliggaamposte verminder omdat die skole finansieel nie kop bo water kan hou nie.”

Colditz sê besluite soos hierdie dra net verder by tot verdeeldheid in gemeenskappe en die onderwysstelsel. FEDSAS dring daarom aan op antwoorde van die departement op die volgende vrae:

  • Word daar van skole en ouers verwag om beskermende toerusting (insluitend maskers) aan werknemers van die Departement van Basiese Onderwys te verskaf en, indien wel, op watter gronde is dit geregverdig?
  • Kategoriseer die Departement van Basiese Onderwys die lewe, veiligheid en welstand van onderwysers, leerders en ander skoolpersoneel ook in kwintiele en, indien wel, volgens watter moontlike rasionaal? 

Colditz sê FEDSAS het tot dusver alles moontlik gedoen om die departement te ondersteun rondom ’n strategie vir die heropening van skole. “Ons dring nou daarop aan dat alle skole, personeel en leerders op gelyke voet hanteer word en met dieselfde mate van respek vir hul veiligheid en gesondheid.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid