Artikel

FEDSAS lê klag teen Oos-Kaapse onderwysdepartement by Menseregtekommissie

14/01/2022 - Fedsas



FEDSAS het 'n klag teen die Oos-Kaapse onderwysdepartement gelê by die Menseregtekommissie. Dit volg nadat die departement nie betyds steunmateriaal vir onderrig en leer, insluitend handboeke en skryfbehoeftes, aan skole kon lewer vir die begin van die skooljaar op 19 Januarie 2022 nie.


“Hierdie departement het 'n lang geskiedenis van onbevoegdheid en 'n gebrek aan begrip van die pligte van ? provinsiale onderwysdepartement,” sê me. Juané van der Merwe, FEDSAS se bestuurder van regsdienste. Van der Merwe sê dit is ironies dat die departement skole ingelig het dat handboeke in sommige gevalle eers in Mei vanjaar afgelewer sal word op dieselfde dag dat die Nasionale Departement van Basiese Onderwys aangekondig het dat alle provinsies gereed is vir die nuwe skooljaar.


“Asof dit nie erg genoeg is nie, het die departement skole ook aangesê om skryfbehoeftes van verlede jaar te gebruik. Dit ten spyte daarvan dat verlede jaar se toelaag skaars genoeg was vir die 2021-skooljaar.”


Van der Merwe sê hierdie is slegs die jongste voorval in wat 'n gewoonte van onbevoegdheid by amptenare in die Oos-Kaapse onderwysdepartement geraak het. “In Desember verlede jaar, kort voor Kersfees, is skoolhoofde 'n onregmatige opdrag gegee om skoolgeld te gebruik om tydelike werkers te betaal wat deel vorm van die Basic Education Employment Initiative ten spyte daarvan dat die Skolewet skole nie toelaat om lenings toe te staan nie.”


Van der Merwe sê hierdie gebrekkige begrip van die wetlike raamwerk waarbinne openbare skole funksioneer, tesame met 'n totale miskenning van kinders se grondwetlike regte, het FEDSAS genoop om die klag by die Menseregtekommissie te lê.


In sy klag wys FEDSAS uit dat die reg op basiese onderrig 'n positiewe plig op die staat is. Van der Merwe sê dit beteken dat die reg op basiese onderrig nie 'n reg is wat afhanklik is van die beskikbaarheid van hulpbronne of ander bepalende faktore nie. “Dit is 'n plig wat uitgevoer moet word ongeag omstandighede. Die onvermoë om behoorlik te begroot is nie 'n verskoning nie.”


Om sake te vererger, is die skole wat die swaarste sal kry die sogenaamde “geenfooi”-skole. “Hierdie skole het geen finansiële hulpbronne anders as wat deur die staat aan hulle toegedeel word nie. Hulle is van die provinsiale onderwysdepartement afhanklik vir alles van potlode en papier tot water en elektrisiteit.”


FEDSAS het 'n brief aan die Oos-Kaapse onderwysdepartement geskryf waarin die organisasie eis dat die saak onmiddellik reggestel word en dat alle skole van genoeg steunmateriaal voorsien word voordat skole op 19 Januarie 2022 heropen. “Indien nie, sal FEDSAS regstappe begin wat daartoe kan lei dat amptenare in hul persoonlike hoedanigheid aanspreeklikheid gehou kan word.”


Van der Merwe sê die dikwels arrogante onbevoegdheid van sommige regeringsamptenare maak 'n bespotting van die Grondwet en die Handves van Menseregte. “FEDSAS weier om by te staan terwyl die regte en belange van kinders so blatant misken word en het dus besluit om die aangeleentheid onder die aandag van die Menseregtekommissie te bring.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid