Artikel

FEDSAS stel ultimatum aan Gauteng-onderwysdepartement oor arbitrêre bepaling van skole se kapasiteit: Dis ’n voorsmaak van magsvergryp wat saam met Bela kom.

31/08/2023 - Fedsas


Skole in Gauteng het vandeesweek al ’n voorsmaak gekry van wat verwag kan word wanneer die Wysigingswetsontwerp op Onderwyswette (Bela) bepaalde magte in die hande van onderwyshoofde plaas. Talle skole in Gauteng het briewe ontvang waarin skole ingelig is dat die skool onder kapasiteit is wat die aantal leerders betref. Die skole is ook ingelig oor die spesifieke getal leerders wat bykomend toegelaat moet word. 

“Hierdie bepaling van kapasiteit is heeltemal arbitrêr. Daar is geen redes gegee of ? uiteensetting van hoe die amptenare hierdie berekening gemaak het nie,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS (die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole). “Een van ons lidskole, wat reeds vol is, het kennis gekry dat die skool volgens die departement net 56% vol is en dus honderde bykomende leerders moet akkommodeer.”

 Deacon sê ouers en voogde word Maandag (4 September 2023) deur die Gauteng-onderwysdepartement per SMS ingelig oor hul kinders se skoolplasings vir volgende jaar. “Nie net sal dit chaos veroorsaak wanneer kinders in skole geplaas word wat hulle nie kan akkommodeer nie, maar dit skep ook verwagtinge by ouers, voogde en leerders waaraan daar uiteindelik nie voldoen sal kan word nie.”

In die lig hiervan het FEDSAS ’n dringende brief aan die Gauteng-onderwysdepartement gestuur waarin die hele bepaling van kapasiteit in geskil geplaas word. “Ons soek dringend ’n onderneming dat geen boodskappe op 4 September 2023 aan ouers en voogde gestuur sal word nie. Trouens, geen kommunikasie oor plasings mag plaasvind voordat die geskil oor kapasiteit nie opgelos is nie. Indien FEDSAS nie so ’n onderneming van die provinsiale departement kry nie, sal die organisasie namens sy lede ’n dringende aansoek voor die hof bring.”

Deacon sê hierdie eensydige optrede deur die Gauteng-onderwysdepartement bring nou die onderliggende politieke agenda met Bela duidelik na vore. “Een van die groot twispunte met Bela is die feit dat die magte van skoolbeheerliggame, veral met betrekking tot die bepaling van taal- en toelatingsbeleid, na provinsiale onderwysdepartemente verskuif. En hier sien ons nou wat gaan gebeur. Dit is opmerklik dat die meeste van die skole wat briewe oor kapasiteit ontvang het, topskole is wat goed funksioneer.”

FEDSAS het in sy voorlegging oor Bela aan die parlementêre portefeuljekomitee oor basiese onderwys ook uitgewys dat duidelike riglyne vir kapasiteitsbepaling ’n gebrek in die voorgestelde wysigings is. Die bestaande gebrek aan behoorlike norme en standaarde vir kapasiteitsbepaling is ook reeds deur die Konstitusionele Hof bevestig. FEDSAS het ’n gedetailleerde voorstel vir kapasiteitsbepaling saam met sy geskrewe voorlegging aan die portefeuljekomitee ingedien.

“Vir jare al wys FEDSAS die Gauteng-onderwysdepartement daarop dat daar nie genoeg skole in die provinsie gebou word nie. Geen ag word hierop geslaan nie en nou is daar eenvoudig net nie genoeg skole in die provinsie nie. Die departement se oplossing hiervoor is om die probleem af te skuif op skole en veral skole wat goed funksioneer.”

Deacon sê FEDSAS sal onverpoos veg om die belange van sy lede te beskerm. “Soveel van die probleme in onderwys in ons land word veroorsaak deur onderwysamptenare se swak bestuur en gebrekkige oordeelsvermoë. Die ideaal van gehalte-onderrig vir alle kinders in Suid-Afrika is haalbaar as die regering erns gaan maak van die opdrag van samewerkende bestuur soos vervat in die Skolewet.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid