Artikel

FEDSAS skep digitale mark vir diensverskaffers van onderwysprodukte en -dienste

13/10/2022 - Fedsas


Skoolbestuurspanne en beheerliggame op soek na oplossings vir operasionele uitdagings kan nou vinnig en maklik toegang kry tot ’n groot verskeidenheid onderwysprodukte en -dienste met die bekendstelling van FEDSAS Markplek.


“FEDSAS ontvang gereeld versoeke van beheerliggame wat gehalte-diensverskaffers soek. Terselfdertyd ontvang ons jaarliks duisende oproepe van maatskappye, nie-winsgewende organisasies en ander diensverskaffers om hul onderwysprodukte en -dienste met FEDSAS se breë gehoor te deel. FEDSAS Markplek voorsien in albei hierdie behoeftes,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS.


Deacon sê FEDSAS se hoë profiel as leier in skoolbeheer en -bestuur en die organisasie se uitstekende reputasie in die Suid-Afrikaanse onderwyssektor gee aan beheerliggame die gemoedsrus dat hulle toegang kry tot gehalte-produkte. Terselfdertyd kan verskaffers voordeel trek uit FEDSAS se landwye voetspoor, uitgebreide netwerk en media-teenwoordigheid.


“FEDSAS-personeel het voortdurende kontak met lidskole in al die provinsies. Hieruit het ons geleer dat skoolbeheerliggame nie altyd bewus is van al die oplossings wat vir talle skoolbestuurtake beskikbaar is nie. Of bestuurspanne is huiwerig om van ’n produk of diens gebruik te maak omdat hulle onseker is oor die gehalte daarvan. Skoolbegrotings moet versigtig bestuur word en boonop is daar nie altyd tyd om navorsing te doen om die beste moontlike oplossing te vind nie. Daarom het FEDSAS besluit om ’n digitale mark te skep om bestuurspanne en beheerliggame toegang tot praktiese, etiese en oplossinggedrewe produkte en dienste te gee,” sê mnr. Paul Rencken, FEDSAS se Korporatiewe en Besigheidsontwikkelingbestuurder.


Die konsep van FEDSAS Markplek is gebou op die vertroue wat FEDSAS in die onderwyssektor geniet. “FEDSAS het ’n uitstekende rekord as dit kom by betroubare raad en bystand aan skole. FEDSAS Markplek is ’n uitvloeisel hiervan en ’n stap in die regte rigting om beheerliggame en bestuurspanne te help om hul skole te omskep in dinamiese sentra vir gehalte-onderrig met ’n oog op die toekoms,” sê Rencken.


Skoolbeheerliggame, bestuurspanne en onderwysdiensverskaffers kan FEDSAS Markplek besoek by www.fedsasmarketplace.co.za om ’n profiel te skep.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid