Artikel

Vroeë aanduidings van intimidasie en manipulasie van openbare konsultasies oor Bela-wetgewing wek kommer, sê FEDSAS

01/03/2023 - Fedsas


Daar is rede tot kommer oor die regering se hantering van die openbare konsultasies oor die Bela-wetsontwerp. Die parlementêre portefeuljekomitee oor onderwys het verlede jaar na voorleggings oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys geluister. Die volgende stap is die openbare konsultasies, waar die publiek hul mening kan lug.        

“Dit lyk egter nou of amptenare in minstens een onderwysdistrik in die Oos-Vrystaat reeds die proses begin manipuleer deur opdragte aan skole te gee wat indruis teen demokratiese prosesse,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS).

Deacon sê die Thabo Mofutsanyana-distriksdirekteur het in ’n skrywe opdrag aan skole gegee dat slegs die skoolhoof en beheerliggaamvoorsitter van elke skool die openbare sessie in Phuthaditjhaba mag bywoon. “Die parlementêre proses is deel van ons demokratiese stelsel van openbare deelname sonder enige beperking. Geen amptenaar, onderwysdistrik of provinsiale onderwysdepartement of enige ander instansie het die reg om te sê wie daar mag of nie mag wees nie.”

Nog ’n punt in die brief wat ’n vraagteken laat hang oor die bybedoelings van die amptenare is ’n opdrag dat skoolhoofde en BL-voorsitters reeds 09:00 die oggend moet aanmeld. Volgens die parlementêre kommunikasie begin die sessies eers om 14:30. 

“FEDSAS vra dat die parlementêre portefeuljekomitee van hierdie voorval kennis moet neem en dat die staat dringend dissiplinêr teen die distriksdirekteur moet optree. Indien FEDSAS nie onmiddellike optrede teen die amptenaar sien nie, sal ons aanvaar dat die Vrystaatse onderwysdepartement die aksie ondersteun om die parlementêre proses te omseil.”

Deacon sê dit is nog vroeg in die proses en slegs Limpopo het reeds openbare konsultasies gehad. Die Vrystaatse sessies vind hierdie week van Vrydag tot Sondag (3-5 Maart 2023) plaas. 

“Daar is nog tientalle sessies wat landwyd moet plaasvind, en heelwat geleentheid vir soortgelyke inmenging. FEDSAS doen dus ’n dringende beroep op lede van skoolbeheerliggame, ouers en skoolgemeenskappe om hul stem te laat geld en die sessies by te woon. FEDSAS sal ook by elke konsultasiesessie teenwoordig wees.”

FEDSAS het reeds verlede jaar ’n volledige voorlegging aan die parlement gemaak. “Hierdie proses is reeds sedert 2017 aan die gang en dit is te verstane dat die publiek dalk al ’n bietjie Bela-voos is. Die volgende paar weke gaan egter deurslaggewend wees en dit is nou burgers van die land se kans om direk aan die demokratiese proses deel te neem.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid