Artikel

FEDSAS vier status van onderwysers as waardevolle spesialiste op Wêreldonderwysersdag

07/10/2021 - Fedsas


'n Onderwyser is 'n waardevolle spesialis volgens die Verenigde Nasies se aanbeveling rakende die status van onderwysers. Dié aanbeveling is op 5 Oktober 1966 aanvaar en het aanleiding gegee tot die viering van Wêreldonderwysersdag jaarliks op 5 Oktober. Onderwysers is aan die voorpunt van pogings om onderwys weer op die herstelpad te kry gegewe die impak wat die pandemie steeds op hierdie belangrike sektor het.  

 “Vanjaar gee ons erkenning aan die vasberadenheid en ywer waarmee die wêreld se sowat 63 miljoen opvoeders sedert die begin van die pandemie hul werk aangepak het,” sê dr. Jaco Deacon, waarnemende uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS). 

In Suid-Afrika is die amptelike datum vir Wêreldonderwysersdag gedurende die skoolvakansie. Terwyl onderwysers 'n welverdiende ruskans op dié dag geniet, moedig FEDSAS beheerliggame en die skoolgemeenskap aan om die dag op die eerste Vrydag van die vierde kwartaal te vier (15 Oktober 2021). 

“Dit is ook belangrik om erkenning te gee aan die emosionele impak wat inperkings en noodgedwonge afstandsonderrig op die welstand van onderwysers het. Onderwysers is die draers van drome. Loopbaandag is 'n gewilde dag vir leerders om te spog met hul toekomsdrome. Wat gewoonlik 'n prettige dag by die skool is, is egter ook 'n herinnering aan die verantwoordelikheid wat op onderwysers rus om hierdie kinderdrome 'n werklikheid te maak. Die manier waarop hulle dit te midde van die ontwrigting die afgelope twee jaar gedoen het, is prysenswaardig.”

Deacon sê onderwysers is die belangrikste enkele bate in die skoolstelsel. “Dit is die res van ons as die breër skoolgemeenskap se plig om toe te sien dat onderwysers alles het wat nodig is om hul taak as waardevolle spesialiste te kan doen.”

FEDSAS moedig beheerliggame, ouers, leerders en ander rolspelers aan om nou reeds te begin met beplanning vir die viering van Wêreldonderwysersdag by hul skool. “Kyk gerus na FEDSAS se video op sosiale media en gebruik die hutsmerke #dankieonnie en #fedsas om op sosiale media erkenning te gee aan onderwysers,” sê Deacon.


Volledige skakels:

FEDSAS-video oor Wêreldonderwysersdag:

https://www.facebook.com/watch/?v=944092553131213

https://drive.google.com/file/d/1TK8AY9LqgUCB9v1NUcv_RL100ls8hg7H/view

VN se aanbeveling rakende die status van onderwysers:

http://portal.unesco.org/en/ev.php-URL_ID=13084&URL_DO=DO_TOPIC&URL_SECTION=201.html

UNESCO-verklaring:

https://en.unesco.org/commemorations/worldteachersday

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid