Artikel

FEDSAS se algemene jaarvergadering: Hier is Paul Colditz se oplossings vir onderwys in SA

29/11/2021 - Fedsas


Pleks van 'n oplossing is daar in Suid-Afrikaanse onderwys dikwels eerder ’n verskoning vir elke probleem. Só sê Paul Colditz, voormalige uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS). Hy was die hoofspreker op FEDSAS se algemene jaarvergadering die afgelope naweek in Bloemfontein nadat hy einde Oktober ná 14 jaar in die posisie afgetree het.

            

“Die eerste stap is om te besef dat jy nie iets wat fundamenteel verkeerd is, kan herstel deur 'n  paar pleisters te plak nie. Ons moet onderwysleiers identifiseer wat moet gaan sit en 'n  onderwysbloudruk saamstel,” sê Colditz.  Sy voorstelle vir so 'n  bloudruk sluit in dat daar vasgestel moet word hoe geld tot in 'n klaskamer kom en dat daar 'n stelsel daarvoor ontwikkel moet word. Gans te veel geld gaan verlore in 'n lang pyplyn wat geen waarde toevoeg nie. Dan is daar 'n  kernkurrikulum nodig wat betekenisvol is, maar ook buigbaar genoeg om aan te pas by verandering. “Ons moet ook weer die professie van onderwys in ere herstel. Ons moet opvoeders oplei om professioneel te wees en wat trots is op hul professionele status. Sommige vakbonde se gebruik om na onderwysers as ‘werkers’ te verwys, doen die professie onnoembare skade aan.”

            

Colditz stel ook voor dat duisende burokrate wat nie 'n  bydrae lewer nie, verwyder moet word. “Ons moet groot belê in die ontwikkel van onderwysleiers wat skole suksesvol kan lei sodat burokrate nie nodig is om te stelsel te laat funksioneer nie. Die houvas van vakbonde op onderwys moet ook gebreek word. Vakbonde het 'n rol, maar die houvas knou die stelsel.”

            

Oor sy jare by FEDSAS het Colditz gesê sy droom was altyd om FEDSAS die lekkerste werkplek te maak. “Dit is ook vir my 'n riem onder die hart om te sien hoe FEDSAS se personeel en ons lidskole inkoop op ons ideaal om gehalte-onderwys in alle openbare skole te vestig.”

            

Dr. Jaco Deacon, nuwe uitvoerende hoof van FEDSAS, het Colditz bedank vir sy visie, wat FEDSAS in staat stel om voort te gaan met sy werk. Tydens die algemene jaarvergadering is dr. Shaun Mellors as voorsitter van FEDSAS se Nasionale Raad herkies, met me. Hess Radley as nuwe ondervoorsitter. “Ons sien uit daarna om met hierdie sterk leierskapspan saam te werk. FEDSAS se koersvaste verlede is nou ons kompas vir die opwindende toekoms wat voorlê.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid