Artikel

Onderwysamptenare probeer demokratiese proses in die wiele ry, sê FEDSAS oor nóg pogings om toegang tot openbare konsultasies te beperk

07/03/2023 - Fedsas


Weet regeringsamptenare nie hoe demokratiese prosesse werk nie of is daar doelbewuste pogings om toegang tot openbare konsultasies oor die Bela-wetsontwerp te beperk?

In die bestek van omtrent ’n week het direkteure in onderwysdistrikte in twee provinsies opdrag gegee dat slegs skoolhoofde en voorsitters van skoolbeheerliggame openbare konsultasies mag bywoon. 

 “Verlede week het die Vrystaatse onderwysdepartement gesê die Thabo Mofutsanyana-distriksdirekteur het ’n ‘eerlike’ fout gemaak. Maar nou is daar soortgelyke kommunikasie uitgestuur deur die distriksdirekteur in die Dr. Ruth Segomotsi Mompati-distrik in Noordwes,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS).

Deacon sê FEDSAS dring nou daarop aan dat die voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor onderwys duidelike instruksies aan provinsies gee oor hoe openbare konsultasies hanteer moet word. “Die komitee het ’n verantwoordelikheid om aan amptenare te verduidelik hoe demokratiese prosesse moet plaasvind. Anders benadeel dit die komitee se eie werksaamhede en maak dit die hele proses verdag.”

FEDSAS het reeds voor die begin van die openbare konsultasies kommer uitgespreek omdat die portefeuljekomitee traag was rondom bewusmaking van die konsultasies. “Toe volg die voorval verlede week waarin ’n Vrystaatse onderwysamptenaar blykbaar self besluit het wie mag die konsultasies bywoon en wie nie. Die Vrystaatse onderwysdepartement mag dit nou wel as ’n fout afmaak maar hoe gebeur dit dan skaars ’n week later in ’n nog provinsie? Het ander provinsies nie kennis geneem van die voorval nie? Hoekom het die nasionale departement van basiese onderwys of die portefeuljekomitee nie dadelik opgetree om seker te maak dat die konsultasies binne die grondwetlike raamwerk aangebied word nie?”

FEDSAS het reeds ’n omvattende voorlegging oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys aan die portefeuljekomitee gedoen. Personeel en lede van die organisasie woon ook al die openbare konsultasies by. “Hierdie proses is eenvoudig net te belangrik om deur magsbehepte en onbekwame amptenare gekaap te word.”

Openbare konsultasies het reeds in Limpopo en die Vrystaat plaasgevind. Die sessies in Noordwes vind vandeesweek van 10-12 Maart plaas. “Ouers, beheerliggaamlede en almal met ’n belang by ’n skoolgemeenskap word versoek om ’n sessie by te woon. Indien hulle weggewys word, moet hulle dit baie duidelik maak dat ’n demokrasie berus op openbare deelname sonder enige beperking.”


Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid