Artikel

Wysigings aan onderwyswette moet lewensgehalte verhoog en potensiaal ontsluit, sê FEDSAS aan portefeuljekomitee oor basiese onderwys

15/11/2022 - Fedsas


Enige veranderinge aan die Skolewet moet versigtig oorweeg word aan die hand van die Grondwet, wat die kerndokument is wat rigting gee aan wetgewing in Suid-Afrika. Een van die beginsels in die aanhef tot die Grondwet is dat dit ten doel het om die lewensgehalte van alle burgers te verhoog en die potensiaal van elke mens te ontsluit.


 Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) sê in sy voorlegging aan die portefeuljekomitee oor basiese onderwys die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwys, ook bekend as die Bela-wetsontwerp, moet hieraan getoets word. FEDSAS doen vandag (Dinsdag, 15 November 2022) sy voorlegging aan die komitee.


“FEDSAS se kommentaar is gerig deur twee vrae: Hoe kan die wysiging van onderwyswette bydrae tot die bevordering van gehalte-onderrig waarop elke kind in die land geregtig is? En sal die voorgestelde wysigings die ervaring en gehalte van onderrig wat kinders tans ontvang, verbeter? Dit is belangrik om te verstaan dat hierdie wetgewing nie ‘n gewone wetlike proses is nie maar dat dit spreek tot die kern van ons Grondwet,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS.


Deacon sê dit is die eerste wysigingswetsontwerp voor hierdie portefeuljekomitee en FEDSAS se uitgangspunt is om ‘n konstruktiewe bydrae te lewer. “FEDSAS is op grondvlak betrokke by skole en provinsiale onderwysdepartemente in al nege provinsies. Die organisasie is dus in ‘n unieke posisie om kommentaar te lewer.”


In sy voorlegging lig FEDSAS vyf wysigings uit wat nie sal bydra tot die gees en doelwitte van die Suid-Afrikaanse Skolewet, hofuitsprake van die Grondwethof of die Grondwet nie.
Twee van hierdie voorgestelde wysigings gee aan provinsiale onderwyshoofde die mag om te besluit oor ‘n skool se beleid oor toelating en taal. Deacon sê albei hierdie wysigings druis in teen die onderliggende beginsel van samewerkende bestuur waarop die model vir openbare skole gebou is.


“Hierdie sentralisering van mag is juis wat die twee Witskrifte (die voorloper-dokumente van vandag se Skolewet) wat die verspreiding van mag in onderwys beskryf, poog om te voorkom,” sê Deacon. Deacon sê hierdie wysigings weerspreek selfs ‘n ander wysiging wat bepaalde magte oor toelating aan die Minister van Basiese Onderwys gee. “Die wysiging aan toelatingsbeleid tesame met wysigings aan die bepaling van taalbeleid skep die idee dat die Staat alleen mag besluit watter magte ouers mag hê. Dit neem ons terug na ‘n totalitêre staat en gaan niks doen om onderwys te verbeter nie.”


Nog ‘n wysiging waaroor FEDSAS bekommerd is, is die verklaring van finansiële belange deur lede van ‘n skool se beheerliggaam. “Dit is bloot onredelik en kan daartoe lei dat ouers nie bereid gaan wees om op beheerliggame te dien nie. Die omvang van finansiële belange wat verklaar moet word, is heeltemal te wyd en hoegenaamd nie relevant tot die funksionering van ‘n skoolbeheerliggaam nie. Dit maak sin dat botsende belange bestuur moet word, maar die nodigheid om persoonlike inligting so omvattend te verklaar is buitensporig.”


 Die sentralisering van die aankoop van leermateriaal is nog ‘n aspek wat problematies is. Deacon sê hoewel die wysiging sinvol voorkom, sal dit in praktyk amper onmoontlik wees om daaraan uitvoering te gee en dit skep ‘n teelaarde vir korrupsie. “Huidige onderwyswetgewing maak voorsiening daarvoor dat beheerliggame meer verantwoordelik raak vir die bestuur van herhalende uitgawes. Onderwys- en leermateriaal is ‘n voorbeeld hiervan. Dit maak meer sin om beheerliggame verantwoordbaar te hou wanneer so ‘n liggaam nie sy funksies behoorlik uitvoer nie. Nou straf die wysiging eintlik alle beheerliggame by voorbaat eerder as dat verantwoordbaarheid as beginsel van beheer vasgelê word.”


Die vyfde voorgestelde wysiging wat geensins ‘n sinvolle bydrae lewer nie, is dat beheerliggame kwartaallikse verslae indien oor alle inkomste en uitgawes. “Beheerliggame moet reeds jaarliks geouditeerde finansiële state indien. Wat sal die doel van ‘n papieroefening soos kwartaallikse verslae wees? Natuurlik kan so ‘n vereiste ingestel word waar dit geregverdig is. Reëls moet egter nie gemaak word om uitsonderings te bestuur nie maar eerder om ‘n raamwerk te verskaf om operasionele take en besluitneming te rig. Tree op teen vrot appels en laat die res toe om hul sake sonder inmenging te bestuur. Die aksie kan binne bestaande wetgewing uitgevoer word.”


Deacon sê dit is vir FEDSAS belangrik om ‘n vennoot in onderwys te wees. “FEDSAS het bewese ervaring van onderwysbestuur. Ons voorlegging aan die portefeuljekomitee moet dus gesien word as ‘n bydrae gegrond op kundigheid in terme van onderwysbestuur en onderwyswetgewing. FEDSAS wil ‘n rol speel om, soos die Grondwet van ons vra, die lewensgehalte van alle burgers te verhoog en die potensiaal van elke mens te ontsluit. Dit begin by gehalte-onderwys.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid