Artikel

Oos-Kaap-onderwysdepartement dwing nou ook skoolhoofde om regeringsbeloftes na te kom, sê FEDSAS

23/12/2021 - Fedsas


Werklose jongmense en openbare skole is die slagoffers van provinsiale onderwysdepartemente se swak bestuur van die Basic Education Employment Initiative. Duisende jongmense wat voordeel trek uit die BEEI as deel van president Cyril Ramaphosa se presidensiële indiensnemings-inisiatief wag steeds op hul geld weens die administratiewe onbevoegdheid van verskeie provinsiale onderwysdepartemente. Hierdie departemente, eers Limpopo en nou ook die Oos-Kaap, dwing nou skoolhoofde om die wet te oortree in 'n poging om betalings deur te kry.


“Hierdie is 'n klassieke voorbeeld van steel by die een om die ander te betaal, met jongmense aan weerskante die slagoffers. Dit is moeilik om die regering te glo wanneer hulle sê dat hulle 'n  rooskleurige toekoms vir jongmense wil verseker. Skole is reeds kritiek onderbefonds, maar word nou gedwing om die betalings te doen sodat die staat sy belofte van tydelike indiensneming vir jong skoolverlaters kan nakom. Sodoende word die toekoms van die volgende generasie skoolverlaters onder druk geplaas. Dit vererger 'n bose kringloop van werkloosheid en armoede,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS).


In 'n mediaverklaring sê die Oos-Kaapse onderwysdepartement dat dit "'n groot risiko waag deur skole toe te laat om die betalings te prosesseer” maar die departement gee nêrens erkenning aan die selfs groter risiko wat skole waag nie. “Die Skolewet laat skole nie toe om lenings toe te staan nie. Openbare skole is afsonderlike regsentiteite en die Skolewet bemagtig beheerliggame om slegs bepaalde betalings goed te keur.  'n Beheerliggaam mag nie enige ander betaling goedkeur nie, veral as daar nie begroot is vir daardie betalings nie.”


Deacon sê net soos in Limpopo is skoolhoofde in die Oos-Kaap nou in 'n  onhoudbare posisie. “Indien hulle nie die staat se tydelike werkers betaal nie, ignoreer hulle 'n direkte instruksie van hul werkgewer; betaal hulle wel die tydelike werkers, oortree hulle die wet.”


FEDSAS het gedurende die jaar breedvoerig kommentaar gelewer op die swak bestuur van hierdie program. “Die organisasie het gedetailleerde voorstelle aan die Nasionale Departement van Basiese Onderwys gemaak oor hoe om die projek te bestuur en hoe om die implementeringsraamwerk te verbeter ten einde die talle wetlike teenstrydighede en ander foute reg te stel,” sê Deacon.


Deacon sê FEDSAS deel die frustrasie van die jongmense wat vir hul betaling wag sowel as die jongmense wat hul nuwe skooljaar moet aanpak sonder handboeke en skryfbehoeftes in skoolgeboue sonder water en elektrisiteit. “Die gemene deler bly die onbevoegdheid van provinsiale staatsamptenare.”


FEDSAS doen opnuut 'n beroep op president Ramaphosa en minister Angie Motshekga om kennis te neem van hierdie verwikkelinge en om op te tree.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid