Artikel

Dinamiese Deacon verwelkom as FEDSAS se nuwe uitvoerende hoof

02/11/2021 - Fedsas


FEDSAS se nuwe uitvoerende hoof, dr. Jaco Deacon, word reeds internasionaal gereken as ? kundige op die gebied van onderwysreg. Deacon neem vandeesweek (1 November 2021) formeel die leisels oor by mnr. Paul Colditz, wat ná 14 jaar as uitvoerende hoof aan die einde van Oktober vanjaar afgetree het.

            

“Jaco is vir meer as ? dekade al by FEDSAS betrokke en het help bou aan die invloedryke organisasie wat FEDSAS vandag is. Vir enige organisasie is dit die ideale scenario vir opvolgbeplanning,” sê dr. Shaun Mellors, voorsitter van FEDSAS se Nasionale Raad. 

            

Mellors sê Deacon se status as onderwysleier, plaaslik sowel as internasionaal, beteken dat FEDSAS kan voortbou op die sterk bande wat die organisasie met ander onderwysrolspelers het. “In Jaco het ons ? dinamiese leier met die visie om hierdie gevestigde en gerekende organisasie die toekoms in te neem.”

            

Deacon sê dit is ? voorreg om die stuur oor te neem van ? skip wat reeds volstoom op pad is. “Seker die belangrikste nalatenskap van Paul Colditz is dat elkeen by FEDSAS presies weet hóékom ons doen wat ons doen. Tegniese vaardighede kan aangeleer word, maar ? span kan slegs vooruitgaan indien elke besluit geneem en elke aksie uitgevoer word met die regte motivering.” 

            

Tegnies en professioneel is Deacon egter ook reeds deeglik onderlê in die vaardighede wat nodig is vir die posisie. Sy opleiding as prokureur het juis begin met ? leerklerkskap onder Colditz, waar hy reeds as kandidaatprokureur by onderwysreg betrokke was. Hy het ? doktorsgraad in arbeidsreg verwerf terwyl hy as senior lektor aan die regsfakulteit van die Universiteit van die Vrystaat gewerk het. 

            

“Jaco het tydens sy tyd in die akademie steeds as prokureur gepraktiseer en is vandag steeds betrokke by die Sentrum vir Arbeidsreg. Dit is hierdie terugploeg van vaardighede en ook betrokkenheid by navorsing wat maak dat hy in sy rol by FEDSAS ook aan die voorpunt bly van die nuutste verwikkelinge,” sê Mellors. Deacon is juis ook die redakteur van die gesaghebbende regsbron Juta Education Law and Policy Handbook en is ook aktief betrokke by nagraadse studente van verskillende universiteite. Hy het reeds talle navorsingsartikels in gesaghebbende akademiese joernale gepubliseer en is ook as skrywer en redakteur betrokke by verskeie boeke oor aspekte van onderwysreg asook skoolbeheer en –bestuur.

            

Deacon is in 2008 deur die Minister van Arbeid aangestel as deel van ? taakspan om arbeidswette te hersien. In 2013 is hy deur die Minister van Basiese Onderwys aangestel op die Suid-Afrikaanse Raad van Opvoeders, waar hy ook op die etiekkomitee dien. Hy is ook president van die Suid-Afrikaanse Onderwysregvereniging.

           

 Mellors sê FEDSAS baat reeds jare al by Deacon eie kundigheid asook die blootstelling wat sy internasionale netwerk van kontakte die organisasie bied. “FEDSAS se Nasionale Raad sien saam met die res van die organisasie en die breër onderwysgemeenskap uit daarna om die pad saam met Jaco te stap.”

            

Deacon sê net soos vir die res van die FEDSAS-span is onderwys sy passie. “FEDSAS is ? ongelooflike omgewing om in te werk, maar vir almal van ons is dit meer as net ? werk. Dit is ? voorreg om daagliks ? verskil te kan maak. As uitvoerende hoof sal dít my belangrikste plig wees – om binne en buite FEDSAS ? verskil te maak.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid