Artikel

Deur wyd oop vir inmenging met skoolkapasiteit, sê FEDSAS oor wysigings aan regulasies

10/06/2024 - Fedsas


Wysigings aan die regulasies rakende norme en standaarde vir openbare skole se infrastruktuur is sonder enige konsultasie die dag voor die algemene verkiesing in die Staatskoerant gepubliseer.


“Die model vir openbare skole berus op ’n vennootskap tussen alle rolspelers, insluitend die departement van basiese onderwys. Wysigings sonder enige konsultasie druis in teen alles waarvoor die Grondwet staan. Ons is teleurgesteld dat die Minister van Basiese Onderwys nou kortpaaie vat en nie met vennote konsulteer nie,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS (die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole).


FEDSAS het twee jaar gelede kommentaar gelewer op voorstelle en geen reaksie gekry nie. Daar was intussen ook ? hofbevel oor infrastruktuur en een van die wysigings oor kapasiteit wat nou aangebring is, was nie deel van die oorspronklike voorstel in 2022 nie en FEDSAS kon dus nie daarop kommentaar lewer nie.


Deacon sê FEDSAS het reeds ’n prokureursbrief aan Minister Angie Motshekga gerig waarin versoek word dat die wysigings met onmiddellike effek teruggetrek word. “Veral kommerwekkend in die wysigings is die skrap van ’n bepaling rakende die kapasiteit van skole. Voorheen het die regulasies voorsiening gemaak vir ‘n minimum ruimte van een vierkante meter per leerder en sewe vierkante meter per onderwyser. Die regulasie is reeds baie subjektief toegepas maar met die skrap daarvan laat dit alle besluite oor skoolgetalle aan die oordeel van onderwysamptenare oor.”


Skoolkapasiteit, met ander woorde hoeveel leerders ’n skool met veiligheid kan akkommodeer, is ’n saak wat beheerliggame direk raak. Daar was egter geen vorm van gesprek hieroor nie. Die minister het ook nie die Nasionale Raadplegende Forum vir beheerliggame in die saak geken nie. Dít ten spyte van ’n ooreenkoms dat alle riglyne, regulasies en wetgewing eers by hierdie forum vir insette sal dien voordat dit afgekondig sal word.


FEDSAS het reeds ’n omvattende voorlegging oor skoolkapasiteit aan die minister gedoen. Sulke regulasies sal meetbare, objektiewe kriteria daarstel wat aangewend moet word om te bepaal wanneer ’n skool vol is. “Kapasiteit is ’n kernaspek in skoolbeheer en -bestuur. Dit raak ook taal- en toelatingsbeleid en is gewoonlik die eerste regulasie waarna onderwysamptenare gryp om ondeurdagte besluite op skole af te dwing.”


FEDSAS het die minister versoek om teen 7 Junie 2024 die regulasies terug te trek en ook om ’n behoorlike konsultasieproses aan te kondig. FEDSAS het intussen verneem dat die minister se woordvoerder aangedui het dat die verkeerde regulasies gepubliseer is maar dit is nog nie amptelik teruggetrek nie. “FEDSAS is ’n toegewyde onderwysvennoot en verkies om proaktief by die beplanningsfase betrokke te wees eerder as om reaktief op te tree deur middel van regsaksie. Waar nodig, sal ons egter nie huiwer om die hof te nader om te verhoed dat hierdie gebrekkige regulasies geïmplementeer word nie,” sê Deacon.


FEDSAS het deur die jare ’n vertrouensverhouding met die minister en die departement van basiese onderwys opgebou. “Die organisasie het reeds herhaaldelik sy verbintenis tot positiewe samewerking bewys en staan nou ook gereed om insette te lewer tot voordeel van die kinders van ons land.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid