Artikel

Hofbevel dwing Limpopo-onderwysdepartement om Hoërskool Ellisras op te knap voor verdere besluite oor kapasiteit

01/12/2023 - Fedsas


Die Limpopo-onderwysdepartement se herhaalde pogings om in te meng in skooltoelatings is ’n behoorlike slag toegedien met ’n hofbevel wat gister (30 November 2023) in die hooggeregshof in Polokwane toegestaan is. Die hofbevel is die uitvloeisel van ’n skikkingsooreenkoms wat aan die begin van die jaar aangegaan is nadat die provinsiale onderwysdepartement die Hoërskool Ellisras probeer dwing het om 44 bykomende leerders te akkommodeer. Dít terwyl die skool reeds feitlik dubbel soveel leerders het as wat veilig geakkommodeer kan word.

          “Die oorspronklike skikkingsooreenkoms is nou ’n hofbevel gemaak,” sê me. Juané van der Merwe, adjunkhoof van FEDSAS (die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole). FEDSAS het die skool in die proses ondersteun aangesien die beheerliggaam van die Hoërskool Ellisras ’n FEDSAS-lid is.

          Van der Merwe sê volgens ’n ingenieursverslag is daar strukturele probleme met die skoolgebou wat vererger word deur oorval klasse. Die leerdergetal moes dus dringend verminder word, eerder as om nog leerders te plaas. Ingevolge die aanvanklike skikkingsooreenkoms moes die Limpopo-onderwysdepartement die strukturele en ander veiligheidskwessies voor Julie vanjaar aangespreek het. “Dit het egter nog nie gebeur nie. ’n Minagtingsbevel is egter nou die departement se voorland indien die opknappingswerk nie gedoen word nie.”

          Ingevolge die hofbevel moet die provinsiale onderwysdepartement en die skool ná voltooiing van die opknappingswerk saam ’n kapasiteitsbepaling doen. Geen bykomende leerders mag toegelaat word voordat die proses soos uiteengesit in die hofbevel nie voltooi is nie. Dit sluit ook in dat ’n bykomende onderwyspos aan die skool toegestaan moet word.

          Van der Merwe sê die hofbevel is ook bevestiging dat die provinsiale onderwyshoof en die betrokke kringbestuurder hul mag misbruik het. “Die hof het die oorspronklike opdrag dat 44 bykomende leerders geakkommodeer moet word, ongeldig bevind en tersyde gestel.”

          Voorvalle van magsmisbruik deur provinsiale onderwysamptenare neem jaarliks toe en FEDSAS huiwer nie om dit uit te wys of, waar nodig, op te tree nie. “FEDSAS volg ’n benadering van samewerking en onderhandeling. Maar soms is dit nodig om die hof te nader om amptenare te dwing om hul werk te doen soos bepaal deur die Skolewet.”

          Van der Merwe sê voorvalle soos hierdie onderstreep ook hoekom dit so belangrik is dat ouers en belanghebbendes aan provinsiale openbare konsultasies oor die BELA-onderwyswetgewing deelneem. “Daar is gapings en tekortkominge in BELA wat hierdie soort inmenging moontlik en wettig gaan maak. Daar is min tyd en geleenthede oor vir Suid-Afrikaners om openbare skole in hul huidige formaat te beskerm teen staatsinmenging. FEDSAS en ander onderwysbelangegroepe beplan reeds om die grondwetlikheid van BELA in die hof te toets maar daarvoor is steun van alle skoolgemeenskappe nodig.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid