Artikel

Braille-publikasie en nuwe boek verbreed kennis oor skoolbeheer, sê FEDSAS

27/07/2022 - Fedsas


’n Braille-weergawe van die gewilde handleiding vir skoolbeheerliggame asook ’n splinternuwe boek wat die dinamiek van ’n korporatiewe raadsaal vir beheerliggaamlede ontsluit, is onlangs deur FEDSAS bekend gestel. 

           

“Een van die belangrikste aspekte van FEDSAS se werk is om beheerliggame toe te rus. Dit beteken dat ons gereeld nuwe kennis toevoeg tot die onderwyssektor en bestaande kennis meer toeganklik maak,” sê dr. Jaco Deacon, uitvoerende hoof van FEDSAS (die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole). 

           

Deacon sê die publikasie Welkom in die raadsaal! ’n Bekendstelling aan raadsaaldinamiek is gebore uit die besef dat baie van die beginsels van toepassing in ’n korporatiewe raadsaal ook oorgedra kan word na ’n skoolbeheerliggaam.  Die boek is deur dr. Riaan Oelofse geskryf. Oelofse het meer as drie dekades se ervaring van bestuur en leierskap in die openbare sowel as privaatsektor. Mev. Suzaan Mellett, voorheen FEDSAS se navorsing- en beleidsbeampte wat betrokke was by die skryf van ’n skoolhandleiding oor die King IV-beginsels, het as medewerker toegesien vir die inkorporering van die skolekomponent in die boek. Daar word ook telkens na bestaande FEDSAS-dokumentasie en beleid verwys om die inligting verder toe te lig. Die boek is ook in Engels beskikbaar as Welcome to the board! An introduction to boardroom dynamics“Die boek vul ’n gaping tussen FEDSAS se materiaal oor wat ’n goeie beheerliggaam behels en die praktiese raad en advies vanuit die raadsaal. Die boek is gebruikersvriendelik sodat dit alle beheerliggaamlede in staat kan stel om ’n bydrae te lewer ongeag hul vorige ervaring,” sê Deacon.

           

Die Afrikaanse braille-weergawe van die publikasie ’n Praktiese handleiding oor skoolbeheer beteken dié gewilde publikasie is nou in al 11 amptelike tale sowel as Afrikaanse braille beskikbaar. “FEDSAS het die behoefte geïdentifiseer omdat die organisasie ook beheerliggame van onder meer skole vir gesiggestremdes as lede het,” sê me. Santie van Tonder, adjunk- provinsiale bestuurder van FEDSAS in die Wes-Kaap. Van Tonder sê die span by Pioneer Printers, ’n nie-winsgewende organisasie wat produkte vir gesiggestremdes verskaf, het uitstekende werk gedoen om die publikasie binne weke gereed te kry. Deacon sê FEDSAS is ook besig om ander FEDSAS-materiaal vir gesig- en gehoorgestremdes toeganklik te maak.

            

“Daar is soveel waarheid in die uitdrukking ‘kennis is mag’,” sê Deacon. “Alles wat FEDSAS doen, is eintlik ’n langtermynbelegging in die toekoms van ons land. Beter toegeruste beheerliggame beteken beter skoolbeheer en -bestuur, wat beteken ons kinders ontvang gehalte-onderrig, wat vir hulle ’n beter toekoms verseker.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid