Artikel

Beheerliggame gaan nie appelleer teen hofbeslissing oor godsdiens in skole

04/08/2017 - Fedsas


Die ses skole wat by die onlangse hofsaak oor godsdiens in skole betrokke was, gaan nie teen die hof se bevinding appelleer nie. Die skole het tot vandag (Vrydag, 04 Augustus 2017) kans gehad sou hulle wel wou appelleer.
           
In Junie vanjaar het regter Willem van der Linde in sy uitspraak in die Suid-Gautengse Hooggeregshof bevind dat godsdiens wél by skole beoefen mag word, maar binne ’n bepaalde raamwerk, insluitend die Grondwet en Skolewet. Die kern hiervan is dat ’n bepaalde geloof nie voorgestaan mag word tot uitsluiting van ander nie.
           
“Die hofbeslissing was in wese in die guns van die skole met slegs twee van die 77 bevele teen die skole wat uiteindelik deur die hof toegestaan is. Die skole beskou die hofbevel as regverdig en billik en wil graag daaraan voldoen,” sê mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS). Die beheerliggame van die ses skole is FEDSAS-lede en die organisasie het die skole in die hofsaak bygestaan.
           
Colditz sê slegs geringe aanpassings aan die betrokke beheerliggame se beleid, reëls en praktyke is nodig om wel aan die bevel te voldoen. FEDSAS het ook reeds inligting aan sy lede beskikbaar gestel ten einde die hofbevel korrek te interpreteer en by skole te implementeer.
           
“Die beheerliggame van die ses skole staan positiewe en konstruktiewe Suid-Afrikaanse burgerskap voor, met die Grondwet as die belangrikste riglyn in die uitvoering hiervan. Regter van der Linde het in sy uitspraak genoem dat diversiteit in Suid-Afrika gevier moet word eerder as dat dit bloot verdra moet word. Dit is ? benadering wat in alle aktiwiteite van die skoolgemeenskap gevolg moet word en is van toepassing op meer as net godsdiens,” sê Colditz.  Dit is inderdaad ook FEDSAS se benadering en ? benadering wat FEDSAS skole aanmoedig om te aanvaar en implementeer.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid