Artikel

Waardegedrewe skole: FEDSAS bied opskerpseminare aan

21/06/2016 - Fedsas


Waardegedrewe skole: Tyd vir ’n opskerpsessie!
 
FEDSAS se unieke Waardegedrewe Skole-projek het die afgelope vier jaar reeds honderde onderwysers, ouers en kinders se lewe verander. ’n Waardegedrewe benadering tot dissipline beteken beduidend minder dissiplinêre probleme. Dit stel beheerliggame in staat om tyd en energie te bestee aan projekte en aktiwiteite wat tot voordeel van die skool se toekoms is. ’n Waardegedrewe benadering berus op die uitgangspunt dat waardes ’n meer bepalende impak op gedrag het omdat dit intern gemotiveer is, teenoor die eksterne motivering van reëls.
 
Dit is nou vier jaar sedert die eerste seminare aangebied is en FEDSAS bied vanjaar ’n reeks opskerpseminare aan. Die opskerpseminare is gemik op onderwysers en ouers en bestaan uit twee sessies per dag. Die middagsessie vir onderwysers, “Leef jy of oorleef jy?”, bied die nodige inspirasie om ’n verskil te maak. Die aandsessie vir ouers, “Verstaan jou kind en jou kind se behoeftes”, fokus spesifiek op dissipline by die huis en verhoudinge wat ’n verskil maak. Die aanbieder is die bekende spreker en skrywer Johan Smith.
 
Twee seminare word in elke provinsie aangebied vanaf Augustus tot Oktober vanjaar. Belangstellende skole kan hul FEDSAS-provinsiale bestuurder kontak vir meer besonderhede oor seminare in die onderskeie provinsies. Kontakbesonderhede vir elke provinsie is beskikbaar op FEDSAS se webtuiste by www.fedsas.org.za Skole wat nie die oorspronklike seminare bygewoon het nie, is nie uitgesluit van die opskerpsessies nie. Video’s van die oorspronklike sessies is op FEDSAS se YouTube-kanaal beskikbaar. Die opskerpsessies is nie beperk tot FEDSAS-lidskole nie – enige belangstellendes kan dit bywoon.
 

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid