Artikel

Só maak jy ’n verskil: FEDSAS se Oos-Kaap-bestuurder, Abé Smith, gesels oor sy loopbaan en aftrede

28/11/2016 - Fedsas


“Ons Smiths praat nie oor onsself nie,” sê Abé Smith, die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) se man in die Oos-Kaap wat nou ná meer as ’n dekade aftree.

Gelukkig praat dade harder as woorde en loop dié onderwysman se reputasie hom ver vooruit. En al hierdie dade word geïnspireer deur die één aspek wat soos ’n goue draad deur Abé se lewe loop: Hy wil ’n verskil maak.

Dít is ook hoe hierdie oudste kind van ’n skoolhoof self in die onderwys beland het. Ná ’n paar draaie tot sover as Groblersdal in Limpopo het die Smiths hulle uiteindelik in Klerksdorp gevestig. Hier het Abé en sy jonger boer en suster in ’n “onderwyshuis” grootgeword. Self het hy dié tradisie voorgesit toe hy met Mariëtta – ’n onderwyseres - getroud is.

Dié twee ken mekaar al van skooldae af. Abé lag bietjie oor sy pragmatiese keuse van ’n meisie: “Sy het in dieselfde straat as ons gewoon en ek het gereken dit sal gaaf wees as ek my meisie sommer op pad skool toe kan kry!” Uiteindelik het hy veel meer gekry – Abé en Mariëtta is al 47 jaar getroud.

Hulle het saam skoolgehou nadat Abé sy diensplig en daarna sy onderwysstudie op Potchefstroom voltooi het. “Sy het op Lichtenburg begin skoolhou en ek op Zeerust. Ek het gou besef só sal dit nie werk nie en ook ’n pos op Lichtenburg gekry.”

In 1977 het hulle Bloemfontein toe getrek, waar Abé by die Hoërskool Sand du Plessis ingeval het en waar hy tot met sy aftrede in 2005 gewerk het. “Bloemfontein was so goed vir ons gesin. Ons het net nooit weer gevoel dis nodig om uit te kyk vir iets anders nie.” Abé en Mariëtta het drie seuns, ook bekende name in die Vrystaat. “MJ het 137 wedstryde vir die Cheetahs gespeel,” vertel hy. Sy seun Franco is die tans die gewilde afrigter van dié Vrystaatse span en is ook by die aftigting van die Springbokke betrokke. Abé jnr. is weer ’n kranige krieketspeler wat lank in Engeland gespeel het. Soos sy ma, pa en oupa is hy egter vandag ook in die onderwys. Tussen die drie seuns is daar vier kleinkinders “en ’n vyfde een in wording”.

In 2005 het Abé-hulle na Jeffreysbaai in die Oos-Kaap verhuis. Om kamstig af te tree. Drie maande later het hy by FEDSAS ingeval om dié organisasie se strukture in die Oos-Kaap op die been te bring. “Ek ken Paul (Colditz, FEDSAS se uitvoerende hoof) al jare lank. Toe hy my vra om betrokke te raak, het ek gedink ek sal dalk vir so ’n jaar of twee bly tot FEDSAS in die Oos-Kaap op die been is. En hier is ons nou,” sê hy met ’n laggie. FEDSAS het onlangs ná 11 jaar van Abé afskeid geneem.
“Abé is een van daardie mense vir wie almal respek het. Sy kalmerende invloed is wat hom so suksesvol maak. Toe hy in die Oos-Kaap begin het, het FEDSAS 35 lede gehad. Vandag is daar 219,” sê Paul.

Oor die werk van die organisasie kan Abé nie uitgepraat raak nie. “Soveel skoolhoofde het al vir my gesê hulle sal eenvoudig nie hul skool kon bestuur sonder FEDSAS nie. Trouens, van hulle sê FEDSAS se kundigheid stel hulle en hul beheerliggame in staat om openbare skole soos privaatskole te bestuur. Dít is natuurlik hoe ons gehalte-onderrig gaan verseker.”

Abé is nie onder ’n wanindruk van die uitdagings wat onderwys in die gesig staar nie. “Hoe meer bestuur, veral van die regering se kant, verswak, hoe belangriker word die rol van FEDSAS. Onderwys is nie in hierdie stadium ’n prioriteit vir die regering nie. Maar dit is FEDSAS se énigste prioriteit.”

Vir dié onderwysman vir wie onderwys ook vir jare ’n topprioriteit was, is daar nou eers ’n paar ander voorkeure. Hy en Mariëtta is albei baie lief vir die buitelewe. “Dit was nog altyd een van ons groot drome om op ’n behoorlike toer dwarsdeur die land te gaan. Ons wil oral met die karavaan gaan kamp. Nie vir ’n naweek of so nie – sommer vir drie maande aaneen!”

Terug op Jeffreysbaai bly sy eerste prioriteit om ’n verskil te maak. “Ons is baie betrokke by ons kerkgemeenskap. Ek wil by arm gemeenskappe betrokke raak om daar ’n verskil te maak.” Want as dit in jou bloed is om ander se lewe positief te beïnvloed, gaan jy nie sommer daarvan ontslae raak nie. En wat Abé Smith betref, wíl hy ook nie, want om te dien is wat hy doen. 

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid