Artikel

FEDSAS se HeyLei-inisiatief help leerders om hul rol op skoolbeheerliggame te vervul

07/02/2017 - Fedsas


Dit is nie genoeg om leerders daarop te wys dat hulle die leiers van môre is nie – hulle moet vandag al toegerus word vir die taak wat môre op hul wag. Om die daad by die woord te voeg, is sowat 500 leerders wat lid is of dalk ’n lid kan word van hul skoolbeheerliggame reeds vanjaar deur die Federasie Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) se HeyLei-inisiatief opgelei.

“As leerders hul stem kon laat hoor, sou baie van die uitdagings wat skole verlede jaar ondervind het, beter hanteer kon word. Die Skolewet vereis dat hoërskoolleerders ook op skoolbeheerliggame verteenwoordig moet wees. Dit word gedoen met die spesifieke doel om jong leiers so vroeg as moontlik aan verantwoordelike bestuur en leierskap bloot te stel,” verduidelik dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS.

Deacon sê leerders se insette in terme van ’n skool se gedragskode help hulle om eienaarskap daarvan te neem. Op dié manier raak dit ’n kode wat gesamentlik ontwikkel is, eerder as ’n stel reëls wat van bo afgedwing word.

Die HeyLei-program bestaan uit interaktiewe sessies waar van video-insetsels gebruik gemaak word en waar twee fasiliteerders aktief saam met die jong leiers in ’n groep werk. Die bekende jeugleraar Manie Botha, dr. Johan Beukes van In Harmonie en Deacon bied die video-sessies aan en fasiliteerders neem die leiding in die lokaal.  Die jong leiers kry die kans om hulle gawes te ontdek en om te leer hoe hulle unieke bydrae ’n reuse-verskil kan maak.  

Die afgelope naweek is sessies in die Wes-Kaap, Noord-Kaap en Mpumalanga aangebied. Op 11 Februarie is die Vrystaat, Oos-Kaap en Noordwes aan die beurt, gevolg deur sessies in Gauteng, KwaZulu-Natal en Limpopo op 18 Februarie. Vir meer inligting, besoek www.heylei.co.za of kyk na die YouTube-video “HeyLei”.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid