Artikel

Die FEDSAS Sentrum vir Tegnologie stel met trots die FEDSAS E-Leer Platform bekend

09/10/2019 - Fedsas


Gehalte-onderrig in skole is afhanklik van die gehalte van opleiding van onderwysers, maar ook van ander rolspelers in die onderwysketting. Die bekendstelling van die FEDSAS E-leer-platform bied nou aan skoolbeheerliggame, ouers en personeel toegang tot aanlyn-kursusse om hulle beter toe te rus vir die uitdagings van skoolbeheer en -bestuur. Die FEDSAS E-leer-platform is ? inisiatief van die FEDSAS Sentrum vir Tegnologie, wat ? jaar gelede deur die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole gevestig is. Die E-leer-platform is vandag (Woensdag, 09 Oktober 2019) in Sandton bekend gestel.
         
“Die E-leer-platform, asook die ander programme van die Sentrum vir Tegnologie, plaas FEDSAS aan die voorpunt van opleiding aan skoolbeheerliggame,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS. “Ons is baie opgewonde oor hierdie belegging in ons lede. Dit bied toegang tot insiggewende kursusse via ? wêreldklas-leerbestuurstelsel.”
         
Deacon sê hoewel persoonlike interaksie met lidskole en rolspelers altyd ? prioriteit vir FEDSAS sal wees, voorsien hierdie platform in die behoefte aan vinnige en maklike toegang tot opleiding en steun. “Die platform moet gesien word as ondersteunend tot FEDSAS se bestaande, omvattende opleidingsgeleenthede en dienste. Skoolbeheerliggaamlede is dikwels betrokke by talle aspekte van die skoolomgewing en die aanlyn-opsie vir opleiding maak dit dus makliker vir beheerliggame om die nodige kennis te bekom.”
         
Mnr. Riaan van der Bergh, FEDSAS se Bestuurder: Onderwystegnologie, sê benewens die koste- en tydbesparing is die FEDSAS E-leer-platform ook maklik om te gebruik. “Kursusse wat reeds beskikbaar is, sluit in ? inleiding tot skoolbeheer- en bestuur, asook ? inleiding tot die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting, bekend as POPI. Daar is ook ? elektroniese POPI-sakgids beskikbaar.”
         
Van der Bergh sê kursusse oor onder meer sosiale media-reg en finansiële bestuur in openbare skole volg binnekort, asook Afrikaanse weergawes van die kursusse. “Die E-leer-platform is ? uitstekende toevoeging tot die Sentrum vir Tegnologie, waar ons lede reeds toegang het tot raad en bystand met digitale burgerskap.”
         
Die FEDSAS Sentrum vir Tegnologie word as ? aanlyn-platform gehuisves en is beskikbaar by www.fedsastech.org.za. Meer inligting oor die FEDSAS E-leer-platform is beskikbaar by https://fedsas.education.rocks/
 
FOTO: FEDSAS het vandag ? innoverende E-leer-platform bekend gestel wat skoolbeheerliggame toegang bied tot aanlynkursusse. Van links is mnr. Stefan Oberholzer van die diensverskaffer Weavind Online en mnr. Riaan van der Bergh, FEDSAS se Bestuurder: Onderwystegnologie.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid