Artikel

Inperking van beheerliggame sal nie korrupsie met onderwysposte uitwis nie, sê FEDSAS

23/05/2016 - Fedsas


Die Minister van Basiese Onderwys se verslag oor die verkoop van onderwysposte skets ’n donker prentjie oor korrupsie en onreëlmatighede met die aanstelling van onderwysers. Dié verslag is verlede week bekend gestel.

“Die minister moet geloof word vir haar pogings om korrupsie in onderwys bloot te lê en uit te wis. In hierdie verband steun FEDSAS haar heelhartig,” sê mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS). FEDSAS is een van die beheerliggaamorganisasies wat deur die minister uitgenooi is om ’n opsomming van die verslag te bespreek. Colditz sê die organisasies is dit eens dat ’n verandering aan wetgewing en die inperking van skoolbeheerliggame se magte nie die oplossing is nie.

“Op hierdie punt het die taakspan gefouteer in die sin dat beheerliggame nie self aanstellings maak nie. ? Skool se beheerliggaam maak bloot aanbevelings oor aanstellings. Die aanstellingsbevoegdheid berus by die onderwysdepartemente, wat dus ’n vingerwysing na onderwysamptenare is,” sê Colditz. Om beheerliggame uit te skakel in die aanstellingsproses gaan dus nie die probleem oplos nie en eerder skoolgemeenskappe vervreem.

Colditz sê die verslag se bevinding dat beheerliggame nie oor die nodige kundigheid beskik nie, is ook ’n vingerwysing na die onderwysdepartement. “Die onderwysdepartement het ? plig, ooreenkomstig artikel 19 van die Skolewet, om beheerliggame op te lei. In die meeste gevalle is daar geen opleiding nie en waar dit wel gebeur, is dit ontoereikend.”

Nasionale regulasies maak dit moontlik dat beheerliggaamorganisasies gebruik kan word om opleiding vir beheerliggame te gee.  FEDSAS, ’n internasionaal gerekende kenner op die gebied van skoolbeheer en –bestuur, het in al nege provinsies aangebied om hierdie opleiding te hanteer. Geen provinsies het nog van hierdie aanbod gebruik gemaak nie, en slegs Gauteng en die Wes-Kaap het ontvangs erken. “Behoorlik toegeruste beheerliggame is die beginpunt vir die uitwis van hierdie en ander soorte korrupsie,” sê Colditz.

FEDSAS se verbintenis tot die daarstel van gehalte-onderrig berus op deeglik toegeruste en ingeligte skoolbeheerliggame. “Ons sal dus saam met die ministerie en ander rolspelers werk om die integriteit van die skoolstelsel te herstel aangesien dit die enigste manier is om die toekoms van ons kinders te verseker,” sê Colditz.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid