Artikel

Betaal Noordwes-skole se geld of dra die gevolge, waarsku FEDSAS

09/02/2016 - Fedsas


Betaal Noordwes-skole se geld of dra die gevolge, waarsku FEDSAS
 
Die Noordwes-onderwysdepartement het tot volgende week om álle uitstaande oordragbetalings volledig aan skole in hierdie provinsie te maak om regsaksie te vermy.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) het gister ’n brief aan die Noordwes-onderwysdepartement gestuur waarin die provinsiale onderwysdepartement se onregmatige optrede duidelik uiteengesit word. Provinsiale onderwysdepartemente word wetlik verplig om jaarliks op 15 Mei en 15 November oorbetalings aan openbare skole te maak. Hierdie geld stel skole in staat om hul bedryfskoste te dek.

“Dit het onder FEDSAS se aandag gekom dat die Noordwes-onderwysdepartement jaarliks ’n persentasie van hierdie geld terughou met die verstandhouding dat die departement dan sal voorsien in skole se leer-, onderrig- en ondersteuningsmateriaal (LOOM),” verduidelik mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van FEDSAS. Skole in Noordwes moes gedurende Oktober en November verlede jaar hul bestellings vir die nodige LOOM indien sodat dit deur die onderwysdepartement verwerk kon word voor die heropening van skole vanjaar. “Dit het nie gebeur nie en skole sit nou met die hande in die hare omdat hierdie materiaal nie beskikbaar is nie en skole ook nie die geld het om dit self aan te koop nie.” Die skole word boonop gedwing om slegs handboeke uit die departement se katalogus te bestel.

Colditz sê bo en behalwe die feit dat die departement nie sy belofte nagekom het nie, is die praktyk in wese onregmatig. “Die Grondwet bepaal dat die magte van persone in uitvoerende posisies beperk is tot wat die wet bepaal. Onderwysamptenare wat dus bepaalde aksies wil uitvoer, moet gevolglik gemagtig wees om dit te doen. Aangesien die Skolewet bepaal dat oordragbetalings volledig aan skole uitbetaal moet word, is hierdie optrede dus onregmatig.”

FEDSAS het die Noordwes-onderwysdepartement tot volgende week tyd gegee om óf die LOOM-bestellings aan skole te voorsien óf die oorblywende oordragbetalings aan skole te maak sodat die skole self die materiaal kan aanskaf. Indien nie, sal FEDSAS genoodsaak wees om hom tot die hof te wend om sy lede se belange te beskerm.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid