Artikel

Ouers het ’n morele plig om deel te neem aan skoolbeheerliggaamverkiesings, sê FEDSAS

09/03/2018 - Fedsas


Ouerbetrokkenheid is deurslaggewend in die sukses van die skoolbeheerliggaamverkiesings wat tans landwyd aan die gang is. Skoolbeheerliggame word elke drie jaar verkies en vanjaar se verkiesingsperiode eindig op 31 Maart.
           
“Ouers en wettige voogde van kinders in openbare skole kan op twee maniere betrokke wees. Eerstens mag hulle hulself verkiesbaar stel deur middel van ’n nominasieproses om sodoende tot ’n beheerliggaam verkies te word. En tweedens móét ouers stem in die verkiesing,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS).
           
Deacon sê talle skole het reeds nuwe beheerliggame verkies, maar een van die grootste uitdagings is dat sommige skole steeds sukkel om ’n kworum te bereik. “Minstens 15% van stemgeregtigde ouers (10% in die Wes-Kaap) moet die nominasie- en verkiesingsvergaderings bywoon vir die verkiesing om geldig te wees.”
           
Met staatsinmenging in onderwys ’n al hoe groter bedreiging, kan ouers eenvoudig nie bekostig om nie hul stem te laat geld nie. “Ons hoor soveel klagtes van ouers wat nie kans sien om hul kinders na die skool in hul onmiddellike omgewing te stuur nie omdat gehalte-onderrig nie beskikbaar is nie. Maar openbare skole behóórt aan skoolgemeenskappe. Ouers en rolspelers moet dus ingryp indien die skool in hul omgewing nie na wense presteer nie,” sê Deacon.
           
Ouers se betrokkenheid by hul kinders se opvoeding is nie beperk tot die keuse van ’n skool nie. Sodra ’n kind ’n ingeskrewe leerder van ’n skool is, rus die onus op die ouers of wettige voogde om toe te sien dat die skool behoorlik bestuur word deur ’n opgeleide en toegewyde beheerliggaam.
           
Wat nuutverkose beheerliggame betref, begin FEDSAS met ’n landwye opleidingsprogram in die tweede kwartaal van die jaar. “Die organisasie is ook die mees omvattende bron van inligting, hulpbronne en regskennis wat skoolbeheer en –bestuur betref. Nuwe skoolbeheerliggaamlede word met raad en daad bygestaan om hulle toe te rus om hierdie uiters belangrike taak suksesvol uit te voer,” sê Deacon.

FEDSAS se omvattende inligtingsveldtog rondom die SBL-verkiesing sluit ook in die ontwikkeling van twee webtuistes waar ouers en ander rolspelers inligting oor die verkiesing en die rol van beheerliggame kan kry. Die webtuistes is in Afrikaans en Engels en is beskikbaar by www.skoolverkiesings.co.za of www.schoolelections.co.za en www.liefvirmyskool.co.za of www.lovemyschool.co.za.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid