Artikel

Hof beslis finaal in FEDSAS se guns oor Noordwes-koshuissage

13/01/2016 - Fedsas


Vir openbare skole in Noordwes is daar een kopseer minder met die aanvang van die nuwe skooljaar: Die hof het finaal beslis dat skoolkoshuise beheer word deur ’n betrokke skool se beheerliggaam en nié deur die provinsiale onderwysdepartement nie. Hiermee word ’n sage afgesluit wat al sedert 2012 voortsleep toe die Noordwes-onderwysdepartement besluit het dat die departement die bestuur van koshuise, asook die plasing van leerders in koshuise, sal oorneem – boonop sonder om die finansiële verpligtinge verbonde hieraan te aanvaar.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) het die Noordwes-onderwysdepartement en die LUR hof te gevat namens meer as 40 van sy lede wat akkommodasie aan leerders in openbare skole bied. In Augustus 2014 het die hooggeregshof in die guns van FEDSAS beslis.

“Nadat die departement aansoek gedoen het om sy appèl te laat herleef, het die hooggeregshof einde verlede jaar finaal ten gunste van FEDSAS beslis. Die departement is gestraf met ’n kostebevel wat ’n senior advokaat insluit,” verduidelik dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS.

Deacon sê hoewel FEDSAS namens sy lede tevrede is met nóg ’n oorwinning in die hof, was die hele aangeleentheid ’n groot mors van hulpbronne. “Provinsiale onderwysdepartemente hou aan om die Skolewet te toets en keer op keer bevestig die hof nie alleen die integriteit van die wetgewing nie, maar ook FEDSAS se begrip en uitvoering daarvan. En met elke hofsaak word onderwysamptenare se onkunde oor en dikwels ook minagting van wetgewing uitgewys. Die probleem is dat die departemente en amptenare nie self die gevolge van die hofsake dra nie – dit kom uit die belastingbetaler se sak.”

FEDSAS het reeds voorheen gevra dat amptenare en departemente direk verantwoordelik gehou word vir onoordeelkundige besluite. “Miljoene rande word bestee aan hofsake. As daardie geld eerder daaraan bestee word om amptenare op te lei, sal dit op die lang duur nie net geld spaar nie, maar ook die onderwysstelsel versterk,” sê Deacon.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid