Artikel

Nuwe beleid oor skoolhoofde groot stap vorente vir onderwys in SA, sê FEDSAS

06/04/2016 - Fedsas


Die nuwe beleid vir standaarde vir skoolhoofde in Suid-Afrika, wat op 18 Maart vanjaar in die Staatskoerant gepubliseer is, is ’n belangrike mylpaal vir onderwys in die land.
           
“Ons wil die minister van basiese onderwys, me. Angie Motshekga, en haar departement geluk wens met hierdie beleid,” sê mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS). FEDSAS was een van die rolspelers wat versoek is om kommentaar te lewer op die konsepbeleid.
           
Die finale beleid oortref ons verwagtinge. Dit is weldeurdag en sal ’n belangrike maatstaf wees vir skoolbeheerliggame wanneer aanbevelings oor kandidate vir skoolhoofde gemaak word. Dit verskaf ook duidelikheid oor die verhouding tussen ’n skoolhoof en die skoolbeheerliggaam,” sê Colditz.
           
’n Skoolhoof is ’n kernskakel in die onderwysketting. Vir Suid-Afrika se onderwysstelsel om suksesvol en kompeterend te wees, is uitstekende skoolhoofde ononderhandelbaar. Skoolbeheerliggame speel ’n bepalende rol in die aanstellingsproses van skoolhoofde. “Hierdie beleid dra by tot die beskerming van die bevoegdheid van beheerliggame om hierdie proses te bestuur en aanbevelings vir die aanstelling te maak,” sê Colditz.

FEDSAS bedank die minister en haar departement vir die steun wat hulle aan skoolhoofde bied. “Beleid soos hierdie maak dit duidelik dat besluite oor skoolhoofde nie aan vakbonde of vakbondgenote in die departement oorgelaat kan word nie. Onlangse mediaberigte oor die ‘verkoop’ van skoolhoofposte deur vakbonde bevestig dat die integriteit van die aanstellingsproses bo verdenking moet bly.”
           
FEDSAS is verbind tot behoud en bevordering van gehalte-onderrig. “As gerekende rolspeler in onderwys sal ons voortgaan om die minister en haar departement te steun in inisiatiewe wat bydra tot die verwesenliking van FEDSAS se ideale.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid