Artikel

Nuwe boek deur FEDSAS-kenners lewer groot bydrae tot navorsing oor onderwysreg

27/06/2016 - Fedsas


Nuwe boek deur FEDSAS-kenners lewer groot bydrae tot navorsing oor onderwysreg
 
’n Deeglike begrip van die ontwikkeling en toepassing van wetgewing wat ’n invloed het op onderwys in Suid-Afrika is ononderhandelbaar vir enige rolspeler betrokke by onderwys in die land. Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) is nie net ’n internasionaal gerekende kenner op die gebied van skoolbeheer en –bestuur nie, maar ook een van die voorste kenners op die gebied van die Suid-Afrikaanse onderwysreg. FEDSAS se nuutste bydrae tot navorsing oor onderwysreg, Case Law Handbook on Education, is pas deur Juta gepubliseer.
 
“Die boek ontleed 25 hofsake wat bygedra het tot die onderwysreg in Suid-Afrika soos dit vandag daarna uitsien,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS en ook redakteur van die handboek. Die ander skrywers is mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van FEDSAS, mev. Suzaan Mellet, FEDSAS se Bestuurder: Ondersteuningsdienste, en me. Juané van der Merwe, FEDSAS se regsbeampte. Al vier die outeurs is regsgeleerdes met ’n bewese kennis van onderwysreg. 
 
“Die boek is ’n gesaghebbende akademiese werk, maar ook geskryf om toeganklik te wees vir beheerliggaamlede wat op ’n daaglikse grondslag met hierdie kwessies gekonfronteer word. Die publikasie ontleed ook sake waaroor nie verslag gedoen is nie, maar waarin grondige beginsels vasgelê is. Elke saak word in duidelike terme bespreek en die praktiese implikasies word uitgelig,” verduidelik Deacon.
 
FEDSAS se doel is om gehalte-onderrig in openbare skole te verbeter. Dit kan slegs geskied indien skoolbeheerliggame oor die nodige kundigheid beskik. Hierdie publikasie is van onskatbare waarde vir enigeen wat te doen kry met die ingewikkelde regskonsepte en beginsels wat ’n invloed op onderwys in Suid-Afrika het. 

Case Law Handbook on Education is tans slegs in Engels beskikbaar by toonaangewende boekwinkels. Belangstellendes kan ook FEDSAS se webtuiste by www.fedsas.org.za besoek vir meer inligting.
 
(FEDSAS is ’n vrywillige vereniging van skoolbeheerliggame van openbare skole en staan die behoud en bevordering van gehalte-onderwys in dié skole voor. Meer as 1900 openbare skole is reeds lid van FEDSAS.)

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid