Artikel

Moedertaalonderrig ’n bate, sê FEDSAS

17/02/2017 - Fedsas


Moedertaalonderrig is ’n belegging in die toekoms van Suid-Afrika. Nie alleen lê dit die grondslag vir behoorlike onderrig in ’n kind se eerste skooljare nie, maar veeltaligheid dra by tot die ryke diversiteit van Suid-Afrika. Met UNESCO se viering van Internasionale Moedertaaldag op 21 Februarie steun die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) vanjaar die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSALB) se moedertaal-veldtog.
           
“FEDSAS is jare lank al betrokke by die ontwikkeling van innoverende oplossings om moedertaalonderrig ’n werklikheid te maak,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS. Deacon sê moedertaalonderrig moet egter nie net op nasionale beleidsvlak aangespreek word nie.

“Elke openbare skool in Suid-Afrika behoort aan die spesifieke gemeenskap waarbinne dit geleë is. Dit is dus elke skoolgemeenskap se plig om betrokke te raak deur byvoorbeeld voorstelle te maak oor hoe om moedertaalonderrig in daardie skool ’n werklikheid te maak.” Deacon sê die implementering van moedertaalonderrig behels die opweeg van verskeie aspekte. Daar is egter talle voorbeelde van skole wat unieke oplossings gevind het wat tot voordeel van die leerders sowel as die skoolgemeenskap strek.
           
Die PanSALB-veldtog sluit onder meer openbare lesings, toekennings en ander bewusmakingsaktiwiteite in. Die fokus is op al Suid-Afrika se amptelike tale en mense word aangemoedig om hul moedertaal te praat en uit te leef. “FEDSAS steun PanSALB se uitgangspunt dat inheemse tale bewaar moet word terwyl veeltaligheid bevorder word,” sê Deacon. Die hoogtepunt van die veldtog op 21 Februarie word regstreeks deur die SABC uitgesaai.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid