Artikel

FEDSAS verskuif grense met skoolbeheer-handleiding in ses SA tale

26/01/2018 - Fedsas


Met derduisende skoolbeheerliggaamlede wat binnekort verkies word en gegewe die uitdagings waardeur onderwys in Suid-Afrika in die gesig gestaar word, is dit noodsaaklik dat beheerliggaamlede hul rol en funksie deeglik verstaan. Die driejaarlikse skoolbeheerliggaamverkiesing vind in Maart vanjaar plaas en is die derde grootste demokratiese verkiesing in die land.
           
Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) het vandeesweek as deel van die bekendstelling van die organisasie se SBL-inligtingsveldtog ’n handleiding vir skoolbeheerliggame bekend gestel. ’n Praktiese handleiding oor skoolbeheer is in ses tale beskikbaar.
           
“Inligting soos hierdie is, met enkele uitsonderings, gewoonlik slegs in Engels beskikbaar. Vir FEDSAS is dit egter van die uiterste belang dat soveel moontlik skoolbeheerliggaamlede presies verstaan wat hul rol en funksie is. Vandaar die besluit om die handleiding te vertaal in van Suid-Afrikaanse se grootste amptelike tale,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS.

“Hoewel Suid-Afrika ’n stelsel van openbare skole het wat aan die onmiddellike skoolgemeenskap behoort, is daar dikwels min steun, veral van die regering se kant, om beheerliggame te help. Daarom was dit uit die staanspoor belangrik om die handleiding so toeganklik moontlik te maak. Die inhoud moet prakties en bruikbaar wees en die grootste moontlike groep beheerliggaamlede bereik.

“Die boek vorm ook die grondslag van die skoolbeheerliggaam-opleiding wat FEDSAS landwyd gaan aanbied ná afloop van die SBL-verkiesing. Nie alleen sal dit bydra tot beter skoolbeheer nie, maar die beskikbaarheid van die boek in ses tale ontsluit ook die inligting vir gemeenskappe wat voorheen nie daartoe toegang gehad het nie.”
           
Die handleiding bied ’n kort oorsig oor die kernaspekte van skoolbeheer en is die ideale vertrekpunt vir nuutverkose beheerliggaamlede en selfs ervare lede wat hul kennis en ervaring verder wil verbreed.
           
FEDSAS se omvattende inligtingsveldtog rondom die SBL-verkiesing sluit ook in die ontwikkeling van twee webtuistes waar ouers en ander rolspelers inligting oor die verkiesing en die rol van beheerliggame kan kry. Die webtuistes is in Afrikaans en Engels en is beskikbaar by www.skoolverkiesings.co.za of www.schoolelections.co.za en www.liefvirmyskool.co.za of www.lovemyschool.co.za
           
Deacon sê die tema “Ek is lief vir my kind, ek is lief vir my skool, ek is lief vir my land” vorm deel van die veldtog. “Die praktiese handleiding en ook FEDSAS se ander projekte skakel in by ons liefde vir die land, sy mense en sy tale. Wanneer elke gemeenskap nou betrokke is by hul skole sal elke skool ’n goeie skool wees,” sê Deacon.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid