Artikel

Maak onderwys die beroep van die toekoms, sê FEDSAS met viering van Wêreldonderwysersdag

30/09/2019 - Fedsas


Onderwys moet ’n eerstekeuse-beroep vir topstudente wees. Tersiêre instellings wat onderwysers oplei, asook skole wat jong onderwysers aanstel, moet daarop ingestel wees om toppresteerders na die beroep te lok. Daarom is die tema van vanjaar se viering van Wêreldonderwysersdag dan ook “Jong onderwysers – die toekoms van die beroep”.

Die Verenigde Nasies vier Wêreldonderwysersdag jaarliks op 5 Oktober. Suid-Afrikaners kan vanjaar saam met die res van die wêreld hulde bring aan onderwysers met verskeie projekte by skole op Vrydag, 4 Oktober 2019.
 
“Die rol van onderwys in die sukses van ’n samelewing is algemeen bekend en word ook formeel bevestig deur verskeie beleidsdokumente, soos Suid-Afrika se Nasionale Ontwikkelingsplan en Agenda 2030, wat die VN se volhoubare ontwikkelingsdoelwitte saamvat,” sê mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS). “Uit ervaring weet ons onderwysers is die belangrikste skakel in die onderwysketting. Alle ander aspekte, van beleid tot bestuur tot kurrikulums, is afhanklik van die gehalte van onderwysers,” sê Colditz.
           
FEDSAS bring vanjaar hulde aan jong onderwysers wat dikwels in moeilike omstandighede steeds in die klas is en hul leerders se belange eerste stel. “Onderwys is nie maklik nie. Buiten vir uitdagings met hulpbronne en ander omgewingsfakture, rus ’n groot verantwoordelikheid ook op onderwysers met ouers wat hul kinders daagliks aan opvoeders toevertrou.”
           
Colditz sê dit is belangrik om te kyk na aspekte wat ’n invloed het op jongmense se besluit om onderwys as ’n beroep te kies. “As rolspelers moet ons seker maak die beste jong Suid-Afrikaners kies om hulself as onderwysers te bekwaam. Die toekoms van onderwys en die toekoms van die land is daarvan afhanklik.”
           
FEDSAS versoek almal om vanjaar hulde te bring aan die onderwysers, oud of jonk, wat ’n rol in hul lewe gespeel het. Op sosiale media kan die hutsmerke #ThankyouTeacher en #DankieOnnie gebruik word.
 
FEDSAS se nasionale kantoor vier Wêreldonderwysersdag vanjaar by Tswellang Spesiale Skool in Bloemfontein. Die gasspreker is mnr. Kgobi Dikana, FEDSAS se adjunk-provinsiale bestuurder in die Vrystaat

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid