Artikel

KZN-onderwysdepartement se administratiewe onvermoë die oorsaak van honderde vakante poste, sê FEDSAS

06/12/2016 - Fedsas


Die sowat 800 vakante senior poste by skole in KwaZulu-Natal is die gevolg van die gebrekkige administratiewe vermoëns van die provinsiale onderwysdepartement.

In ’n berig in The Mercury (06 Desember 2016) lê die provinsiale onderwysdepartement die blaam voor die deur van skoolbeheerliggame, wat volgens ’n departementele woordvoerder glo nie betyds aanbevelings rakende aanstellings gemaak het nie.

“Volgens inligting tot ons beskikking is die departement se bewerings ongegrond,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS). Ses van FEDSAS se lidskole het bevestig dat hul beheerliggame betyds aanbevelings gemaak het ingevolge die provinsiale onderwysdepartement se bestuursplan. “By navraag het die departement bevestig dat die aanbevelings ontvang is. Die oponthoud is dus aan die departement se kant.”

Ingevolge die Suid-Afrikaanse Skolewet is beheerliggame verantwoordelik vir die saamstel van ’n kortlys, die voer van onderhoude en die maak van aanbevelings oor aanstellings. Die KZN-onderwysdepartement het boonop net drie weke toegelaat vir beheerliggame om hierdie proses te voltooi.

“Die departement is veronderstel om beheerliggame op te lei, maar het slegs een kort werksessie aangebied. FEDSAS het aangebied om dié rol namens die departement te vervul en opleiding aan alle beheerliggame in die provinsie te bied, maar die departement het nie eens bevestig dat hulle die voorstel ontvang het nie,” sê Deacon. FEDSAS is ’n bewese kenner op die gebied van skoolbeheer en –bestuur en het die nodige kundigheid en logistieke kapasiteit om die opleiding aan te bied.

“FEDSAS het die departement ook op verskeie amptelike forums ingelig dat die aanstellingsproses soos dit tans bestuur word, gebrekkig is. Vier prosesse per jaar sal skole in staat stel om betyds poste te vul. Die huidige proses is ontoereikend om die oorweldigende getal vakante poste te vul. Dít benadeel weer skoolbestuur, wat uiteindelik ’n direkte invloed op onderrig het.”

Deacon sê gegewe die skandaal rondom die onwettige verkoop van poste en die KZN-onderwysdepartement se aandeel hierin, sou ’n mens graag wou glo dat die departement alles in sy vermoë sou doen om die aanstellingsproses so goed as moontlik te bestuur.

“FEDSAS is egter steeds bereid om betrokke te wees by die opleiding van skoolbeheerliggame in die provinsie, ook vir skole wat nie lid is van die organisasie nie. FEDSAS is ook gewillig om deel te wees van die herontwerp van die bestuur van die aanstellingsproses. Ons enigste prioriteit is gehalte-onderrig en gehalte-onderrig is afhanklik van goeie skoolbestuur,” sê Deacon.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid