Artikel

KZN-onderwysdepartement deur hooggeregshof gedwing om onregmatige aanstellings terug te trek

19/09/2016 - Fedsas


Nóg ’n provinsiale onderwysdepartement is voor stok gekry oor onregmatige aanstellingspraktyke. Die hooggeregshof in Pietermaritzburg het die onderwysdepartement in KwaZulu-Natal beveel om aanstellingsprosedures te volg soos bepaal deur die Skolewet, die Wet op Indiensneming van Opvoeders, asook Regulasies oor aanstellings. Die onderwysdepartement is boonop ook verantwoordelik vir die regskoste.

Talle skole in die provinsie is geraak deur ? onregmatige besluit van hierdie onderwysdepartement om botallige opvoeders sonder enige insette van beheerliggame by skole te plaas.

“Lidskole van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole het die saak onder ons aandag gebring,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS. Die organisasie het eers die onderwysdepartement genader om die aangeleentheid te bespreek, maar die departement het op geen van FEDSAS se kommunikasie gereageer nie. “Die uiteinde was dat ons ons lede moes adviseer om hof toe te gaan om hierdie magsvergryp stop te sit,” sê Deacon.

Deacon sê wetgewing maak daarvoor voorsiening dat elke vakante pos geadverteer moet word, dat ? behoorlike onderhoudproses gevolg word en dat die betrokke skool se beheerliggaam dan ? aanbeveling aan die onderwyshoof maak. “Die skoolbeheerliggaam moet in die beste belang van die skool optree en die skool se spesifieke behoeftes moet met die aanstelling aangespreek word. Om dus bloot onderwysers na skole uit te plaas, druis in teen alle riglyne en wetgewing.”

FEDSAS sal die situasie monitor om seker te maak die onderwyshoof trek die onregmatige aanstellings terug. “Daar was reeds vorige hofuitsprake in hierdie verband in ander provinsies. Die boodskap is baie duidelik dat onregmatige optrede nie geduld sal word nie.”

Die nasionale departement van basiese onderwys is reeds bewus van die uitspraak in KwaZulu-Natal. “Ons is vol vertroue dat die minister sal optree in gevalle waar onderwysamptenare eenvoudig maak wat hulle wil.” FEDSAS sal intussen ook voortgaan om die belange van sy lede te beskerm.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid