Artikel

Hofuitspraak oor UV-taalbeleid het belangrike implikasies vir hele onderrigsektor, sê FEDSAS

21/07/2016 - Fedsas


Die Vrystaat-hooggeregshof se uitspraak ten gunste van AfriForum oor die taalbeleid van die Universiteit van die Vrystaat (UV) het nie net implikasies vir tersiêre onderrig nie, maar vir die hele onderwyssektor in Suid-Afrika. Die hooggeregshof het vandag (21 Julie 2016) beslis dat die UV se besluit om voortaan net Engels as onderrigtaal te gebruik ongrondwetlik is.

“Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole maak jare lank al voorbrand vir meertalige onderwys. Die invloed van FEDSAS blyk duidelik in die talle verwysings na FEDSAS-hofsake, soos die bekende Ermelo-uitspraak oor Afrikaans in skole, in vandag se hofuitspraak,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS. Dié organisasie is saam met die Afrikaanse Taalraad en die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) as vriende van die hof toegelaat in AfriForum se hofaansoek. Vriende van die hof word toegelaat om bykomende inligting voor die die hof te plaas.

“FEDSAS het bewese regskennis en ervaring van die interpretasie en toepassing van die Grondwet se voorsiening van meertaligheid soos dit op die onderwys betrekking het. Vandag se uitspraak onderstreep FEDSAS se uitgangspunt dat moedertaalonderrig waar moontlik die voorkeur-keuse moet wees,” sê Deacon. 

Deacon verduidelik dat die regters in hul uitspraak oor die UV se taalbeleid pertinent verwys na “redelike uitvoerbaarheid” as maatstaf in besluite oor taalbeleid. Hiermee saam gaan die herstel van historiese wanbalanse. “Hierdie uitspraak maak dit baie duidelik dat die verwydering van Afrikaans as onderrigtaal nie bydrae tot die herstel van historiese wanbalanse nie aangesien veral swart leerders steeds meestal in ’n tweede taal, Engels, onderrig sal ontvang, hetsy op skool- of tersiêre onderrigvlak,” sê Deacon. 

Die hofuitspraak maak dit ook duidelik dat universiteite, en daarmee saam skole, wel as ’n orgaan van die staat beskou kan word vanweë hierdie instellings se uitvoer van ’n openbare funksie. “Dit beteken beslis nié dat onderwysdepartemente en staatsamptenare primêre beheer oor hierdie instellings het nie, maar eerder dat hierdie instellings eerstens uitvoering aan die bepalings van die Grondwet moet gee,” verduidelik Deacon.

FEDSAS verwelkom die uitspraak omdat dit die vasstelling en toepassing van taalbeleid in onderwys opnuut duidelik maak. “FEDSAS sal voortgaan om die weg te baan vir die behoud en bevordering van gehalte-onderrig in alle openbare skole. Dit sluit alle aspekte in wat ’n bydrae tot gehalte-onderrig lewer en waarvan moedertaal-onderrig ’n kern-element is.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid