Artikel

Innoverende oplossings noodsaaklik vir moedertaalonderrig, sê FEDSAS

19/02/2016 - Fedsas


Die waarde van moedertaalonderrig, veral op laerskoolvlak, is onomstootlik bewys. In die veeltalige konteks van Suid-Afrika is dit egter geen geringe uitdaging nie. Met UNESCO se viering van Internasionale Moedertaaldag op 21 Februarie wil die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) opnuut klem lê op hierdie kernbeginsel van onderwys.
           
“FEDSAS steun moedertaalonderrig in ál elf Suid-Afrika se amptelike tale. Die feit dat dit nie tans ’n werklikheid of ’n haalbare moontlikheid is nie, is een van die hoofoorsake van die land se swak onderwysprestasie,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS. Deacon sê die meerderheid van Suid-Afrika se kinders ontvang nie onderrig in hul moedertaal nie.
           
“Die groot uitdaging lê egter in die praktiese toepassing hiervan. Maar die feit dat dit duur is en bykomende beplanning verg, mag eenvoudig nie as verskoning gebruik word nie. Kinders het die reg op moedertaalonderrig,” sê Deacon.
           
In ’n toespraak by FEDSAS se algemene jaarvergadering verlede jaar het regter Eberhard Bertelsmann gesê innoverende oplossings moet vir Suid-Afrika se onderwysprobleme gevind word. Bertelsmann, wat allerweë beskou word as die argitek van die Suid-Afrikaanse Skolewet, het gesê dat die oplossings van skoolgemeenskappe self moet kom.
 
“Elke skool is ’n unieke entiteit en moet dus so hanteer word. Die gemeenskap waarbinne ’n skool funksioneer, moet dus saamwerk om oplossings te vind wat in die beste belang van die kinders van daardie gemeenskap is. Hoe om moedertaalonderrig in daardie spesifieke gemeenskap ’n werklikheid te maak, is een van die uitdagings,” sê Deacon.
           
FEDSAS is ’n innoverende organisasie met die nodige ervaring en vermoë om saam met skoolgemeenskappe te werk om sulke oplossings te verfyn. “Dit moet egter ’n haalbare en bekostigbare oplossing vir ’n spesifieke skool wees, nie die onderwys in geheel nie. Baie van Suid-Afrika se onderwysprobleme is die gevolg van ’n enkele model wat sonder aanpassings op alle skole afgedwing word,” sê Deacon.
           
Deacon sê die belangrikste oorweging vir enige besluit in die onderwys is die belange van die kinders. “Moedertaalonderrig is een van daardie belange – ons as onderwysrolspelers moet dus saamwerk om dit ’n werklikheid te maak.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid