Artikel

Bedryfserkenning aan FEDSAS-leiers met verkiesing tot Saela-bestuur

06/09/2016 - Fedsas


’n Beter begrip van onderwysreg – en veral die toepassing daarvan – is die sleutel tot die verbetering van die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel. Die omvattende bydrae op hierdie gebied deur die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) is nou erken deur die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Onderwysreg, of Saela, met die verkiesing van verskeie FEDSAS-leiers op die bestuur van Saela.

FEDSAS se adjunkhoof, dr. Jaco Deacon, is op Saela se kongres in Kaapstad tot president verkies. Deacon word allerweë beskou as een van die voorste kenners van onderwysreg in Suid-Afrika. Hy het al verskeie publikasies hieroor die lig laat sien en speel ook ’n leidende rol in ander regsverenigings. “Die presidentskap is vir my ’n groot voorreg, maar ’n selfs groter verantwoordelikheid. Hoe meer platforms daar is om onderwysreg toeganklik te maak vir diegene wat daagliks daarmee werk – onderwysers, amptenare, lede van beheerliggame – hoe beter sal dit gaan met onderwys in ons land,” sê Deacon.

Dit is die eerste keer in Saela se bestaan van meer as twee dekades dat die president ’n persoon van buite die akademie is. Me. Suzaan Mellet, FEDSAS se Bestuurder: Ondersteuningsdienste, is ook tot die Saela-bestuur verkies, met dr. Jean van Rooyen, FEDSAS se provinsiale bestuurder in Gauteng, wat die nuwe tesourier is en prof. Rika Joubert, onderwysnavorser by FEDSAS, die nuwe Saela-sekretaresse.

Saela is forum waar uiteenlopende rolspelers kan saamdink en saampraat oor onderwysreg. FEDSAS is jare al lid van Saela en was nog altyd nou betrokke by die debatte en ontwikkeling van onderwysreg. Die doel van die vereniging is juis om onderwys-rolspelers byeen te bring om kwessies in ’n veilige omgewing te kan debatteer. “Mense wat vanweë hul mandaat van hul werkgewers dalk andersins nie oor hierdie kwessies sou kon praat nie, kan as lede van Saela gesprek voer oor onderwysreg en die interpretasie daarvan,” verduidelik Deacon.

Vanjaar se Saela-kongres, wat tot 07 September 2016 in Kaapstad plaasvind, is toegespreek deur die Wes-Kaapse Minister van Onderwys, me. Debbie Schäfer, asook drie lede van die span wat verantwoordelik was vir die skryf van die Suid-Afrikaanse Skolewet, insluitend regter Eberhard Bertelsman. Vier laerskoolleerders is ook genooi om die kongresgangers toe te spreek. Referate word gelewer deur skoolhoofde, prokureurs, advokate en akademici, met onderwysreg as die gemeenskaplike fokus. 

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid