Artikel

Honderde dae se opleiding, derduisende kilometers op die pad steeds groot belegging, sê FEDSAS oor sy jaarlikse opleiding

25/10/2019 - Fedsas


Bykans 15000 deelnemers het sedert Januarie vanjaar ? verskeidenheid opleidingsessies, besprekingsvergaderings en skoolbesoeke van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) bygewoon. Van die byna 530 opleidingsessies was meer as 60 aanlyn, terwyl meer as 1100 skoolbesoeke ook plaasgevind het.

“Hoewel FEDSAS as belangrike rolspeler betrokke is by talle ander onderwysaangeleenthede, is die organisasie se hooffokus die ontwikkeling van bekwame skoolbeheerliggame van openbare skole. Meer as 2000 skoolbeheerliggame is lid van FEDSAS en die meer 25 000 mense wat op hierdie beheerliggame dien, is ons prioriteit,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS. Deacon sê FEDSAS se personeel bied per jaar opleiding gelykstaande aan 300 werksdae aan. “? Gemiddelde jaar het ongeveer 250 werksdae, wat ? aanduiding is van die omvang van die opleiding en steun wat FEDSAS aan sy lede bied.”

Die erkenning wat FEDSAS as leier in skoolbeheer en –bestuur geniet, blyk duidelik uit die 38 ontmoetings met meer as 400 amptenare van provinsiale onderwysdepartemente. “Vir FEDSAS is dit belangrik om ? goeie verhouding met provinsiale onderwysdepartemente te handhaaf. Ons speel almal vir dieselfde span, ons is nie opponente nie. FEDSAS stel dus gereeld sy kundigheid en ervaring ook aan amptenare beskikbaar.”

Opleiding aan beheerliggame wissel van induksiesessies vir nuwe lede en gevorderde opleiding vir bestaande lede tot sessies wat spesifiek ontwikkel is vir hoërskoolleerders wat op beheerliggame dien. FEDSAS se getal aanlyn-opleidingsessies neem ook elke jaar toe. Tot dusver vanjaar het die organisasie reeds meer as 60 webinare aangebied, met onderwerpe wat onder meer fokus op finansies, menslike hulpbronne, dissipline en waardes, robotika en kodering, sosiale media, skoolveiligheid, vergaderingsprosedures en komiteestrukture, asook relevante wetgewing en beleid. “Die webinare is baie gewild omdat dit tyd en koste spaar. ? Webinaar duur gemiddeld ? uur en deelnemers het bloot internettoegang nodig. Die webinare is regstreeks en die aanbieders is dus ook beskikbaar vir vraag-en-antwoordsessies.”

Deacon sê die nuwe FEDSAS E-leer-platform, wat onlangs bekend gestel is, het ook reeds baie aandag getrek. Die platform maak van e-leer gebruik om kursusse aan te bied. Kursusgangers voltooi die kursusse op hul eie tyd, wat dit moontlik maak om meer diepgaande inligting in te sluit.

“Daar is nog heelwat opleidingsgeleenthede beskikbaar vir die res van die jaar. FEDSAS het kantore in al nege provinsies en belangstellendes kan ook ons webblad by www.fedsas.org.za besoek vir verdere besonderhede,” sê Deacon.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid