Artikel

Groot druk op Gauteng-onderwys se e-platform op eerste dag van skoolaansoeke; FEDSAS monitor proses voortdurend

21/05/2019 - Fedsas


Ouers in Gauteng het vandag met hul vingers op die sleutelbord gewys hoe belangrik hul kinders se opvoeding vir hulle is. Die Gauteng-onderwysdepartement se e-platform vir skoolaansoeke het vanoggend (Maandag, 20 Mei 2019) geopen en sowat 195 000 aansoeke is binne die eerste uur ontvang.
           
“Die eerste dag was nie sonder stampe en stote nie. Die geweldige aantal aansoeke, dubbel soveel in vergelyking met dieselfde tyd verlede jaar, sal egter enige stelsel onder druk plaas. In ’n stadium was die maksimum getal interaksies per minuut meer as 92 000,” sê mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS). FEDSAS het aanvanklike fundamentele probleme met die stelsel onder die departement se aandag gebring, wat meegebring het dat die aansoekproses met ’n week uitgestel is en eers op 20 Mei 2019 operasioneel kon word.
           
Colditz sê FEDSAS monitor die proses steeds en is voortdurend in kontak met die departement. “Die departement het FEDSAS vanoggend reeds ingelig van probleme wat met die huisadres-opsie ondervind word. Ons kan ouers en skole egter die gerusstelling gee dat die stelsel voorsiening maak vir die verifikasie van aansoeke deur middel van dokumente wat binne sewe dae ná registrasie by die skool ingedien word en wat dan die status van die aansoek in die korrekte aansoekkategorie sal plaas.”
           
FEDSAS herinner ouers daaraan dat hulle steeds hul dokumente by die skole moet indien en dan ook melding maak van die uitdagings wat hulle ervaar het. “Die aansoeke sluit eers 22 Julie. Waglyste sal dan eers saamgestel kan word. Ouers word ook daaraan herinner dat daar ’n appèlprosedure is om die uitslag van ’n aansoek te betwis,” sê Colditz.
           
Ouers kan probleme direk op die platform aanmeld of per e-pos aan die departement by gdeinfo@gauteng.goc.za.
           
Colditz sê die groot getal aansoeke is ook ’n sterk aanduiding van die druk op goeie skole vir toegang tot gehalte-onderrig. “Gehalte-onderrig in alle openbare skole bly FEDSAS se doelwit. Geredelike toegang tot gehalte-onderrig sal beteken dat tyd en hulpbronne aan onderrig pleks van prosesse bestee kan word. Dit sal ’n positiewe kettingreaksie aan die gang sit waarby die hele Suid-Afrikaanse onderwysstelsel uiteindelik sal baat vind.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid