Artikel

Geskiedkundige FEDSAS-leerderberaad baan weg vir skoolbeheer-opleiding vir leerders

03/03/2016 - Fedsas


’n Belegging in die toekoms. Só kan die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) se eerste leerderberaad beskou word. Dié leerderberaad het onlangs in Kaapstad plaasgevind en is bygewoon deur 98 leerders van 41 skole in die Wes-Kaap. Die leerders dien almal as lede van skoolbeheerliggame.
       
“Die beraad was ’n reuse-sukses en daar is reeds besluit om dit ’n jaarlikse instelling te maak,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS. Deacon sê die leerders verteenwoordig skole in verarmde gemeenskappe sowel as stedelike en plattelandse gebiede.

Die doel van die beraad was om leerders bewus te maak van hul rol en funksie as lede van die beheerliggaam, maar ook breër in terme van die leierskapsrol wat hulle in die skool vertolk. “Te oordeel aan die terugvoering wat ons van leerders ontvang het, het die beraad beslis in hierdie doel geslaag,” sê Deacon. Een van die leerders van die Lentegeur Sekondêre Skool in Mitchell’s Plain is só geïnspireer deur die beraad dat sy besluit het om deeltyds te begin werk ten einde haar droom te verwesenlik om universiteit toe te gaan.

Die aanbieder was die leierskapskenner Manie Botha, wat met sy interaktiewe aanbieding die beste uit die leerders na vore gebring het.
 
Ander sprekers het die skrywer en radiopersoonlikheid Heindrich Wyngaardt, Cheryl Allen van die Wes-Kaapse Onderwysdepartment en Paul Colditz, uitvoerende hoof van FEDSAS, ingesluit. Die sangeres Nadine Blom het die leerders vermaak.

Die beraad is geborg deur die Stad Kaapstad, wat ook reeds aangedui het dat die borgskap volgende jaar voortgesit sal word.

“Om op hierdie manier in leerders se toekoms te belê, is nie net tot voordeel van die individue wat aan die beraad deelgeneem het nie. Dit is ook ’n belegging in die toekoms van onderwys in Suid-Afrika, want hierdie leerders het nou reeds op ’n jong onderdom blootstelling aan en ervaring van skoolbeheer en –bestuur,” sê Deacon. FEDSAS stel reeds ondersoek in na die moontlikheid om die opleiding uit te brei na ander provinsies.

FOTO: Van links na regs is Cheryl Allen (Wes-Kaapse Onderwysdepartement), Henry Botha (FEDSAS), Santie van Tonder (FEDSAS), Manie Botha (spreker), Heindrich Wyngaardt (spreker), Johan van der Merwe (Stad Kaapstad), Nadine Blom (vermaaklikheidskunstenaar), Paul Colditz (uitvoerende hoof van FEDSAS) en Danie van Wyk (FEDSAS).
 

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid