Artikel

Noord-Kaap-onderwysdepartement se poging om met skooltoelatingsprosedures te torring, byt in die stof ná hofaansoek deur FEDSAS

13/07/2016 - Fedsas


’n Poging deur die Noord-Kaapse onderwysdepartement om op die rug te ry van ’n onlangse Grondwethof-beslissing oor skole se toelatingsbeleid in die guns van die Gauteng-onderwysdepartement het in die Noord-Kaap-hooggeregshof bloedneus gekry.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) het onlangs ’n dringende aansoek voor die hof gebring om die Noord-Kaapse onderwysdepartement te keer om veranderinge aan skole se toelatingsprosedure vir 2017 in ’n omsendskrywe deur te voer. Ten spyte van ’n onderneming in dié verband het die onderwysdepartement glad nie vooraf met FEDSAS of ander rolspelers oor hierdie voorgenome veranderinge gekonsulteer nie.

“Die provinsiale onderwysdepartement vorm saam met provinsiale beheerliggaamorganisasies die Provinsiale Raadplegende Forum en op ’n vergadering van hierdie forum het die departement onderneem om eers met rolspelers te konsulteer oor die voorgenome veranderinge. Dit het glad nie gebeur nie en die departement het ’n daaropvolgende brief van FEDSAS in hierdie verband ook blatant geïgnoreer. Sou konsultasie wel plaasgevind het, sou FEDSAS die departement daarop kon wys dat die veranderinge soos voorgestel in die omsendskrywe teen statutêre bepalings indruis en dus onwettig is,” sê mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van FEDSAS.

Die Noord-Kaapse onderwysdepartement het, soos sy eweknie in Gauteng, probeer om die Skolewet te omseil deur in te meng met skole se toelatingsbeleid, wat wetlik ’n funksie van ’n skool se beheerliggaam is. Skoolhoofde wat nie hieraan gehoor wou gee nie, is met dissiplinêre optrede gedreig. Die Noord-Kaap-hooggeregshof in Kimberley het egter beslis dat die omsendskrywe ter syde gestel moet word en dat die Noord-Kaapse onderwysdepartement vir die regskoste verantwoordelik is.

“Wat veral bemoedigend is, is dat die hof pertinent sy beslissing baseer het op die onderwysdepartement se versuim om met onderwysrolspelers soos FEDSAS te konsulteer en ? onderneming wat die departement in hierdie verband teenoor FEDSAS gegee het, na te kom. Dit bekragtig opnuut die basiese beginsel van openbare skole, naamlik dat die skool deur die hele skoolgemeenskap, insluitend alle rolspelers, bestuur moet word en nie slegs deur die staat nie,” sê Colditz.

Colditz sê ingevolge die omsendskrywe sou die veranderinge aan die begin van die derde kwartaal in werking getree het. “Die implikasie van die hofbeslissing is dat die gewone toelatingsproses vir 2017 steeds gevolg moet word, met skoolbeheerliggame wat ’n skool se toelatingsbeleid bepaal en leerders wat ooreenkomstig daardie beleid tot openbare skole toegelaat moet word.”

FEDSAS spreek opnuut sy bereidwilligheid tot samewerking met onderwysdepartemente uit, mits dit in ’n positiewe gees en binne wetlike bepalings kan geskied. 

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid