Artikel

Mylpaal-ooreenkoms tussen FEDSAS en Mededingingskommissie daarop gemik op anti-mededingende praktyke met skooluniforms te bekamp

29/11/2018 - Fedsas


’n Gesamentlike werkskomitee tussen die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) en die Mededingingskommissie is gevestig in ’n poging om anti-mededingende praktyke met die voorsiening van skooluniforms en ander items te bekamp. Dit volg ná ’n ondersoek deur die Mededingingskommissie nadat klagtes van ouers en verskaffers van skooluniforms ontvang is. Ouers het gekla dat hul opsies vir die aankop van uniforms deur skole beperk word en dat hulle gevolglik duur betaal vir uniforms en ander skoolitems. Verskaffers van uniforms het weer gekla dat eksklusiewe kontrakte tussen skole en bepaalde verskaffers dit onmoontlik maak vir nuwe verskaffers om tot die mark toe te tree.

“Hierdie ooreenkoms is ’n mylpaal vir FEDSAS en die Kommissie,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS. Deacon sê skoolbeheerliggame mag verskaffingsooreenkomste of kontrakte met diensverskaffers aangaan, maar dat hierdie ooreenkomste aan die Mededingingswet onderhewig is. “Voorraad mag byvoorbeeld eksklusief verskaf word deur ’n skoolklerewinkel of ’n vervaardiger wat aan een of meer plaaslike handelaars verskaf. Die koste van die uniform mag egter nie ’n onbekostigbare finansiële las op ouers plaas nie,” sê Deacon.

FEDSAS fokus op die ontwikkeling van vaardige skoolbeheerliggame en gevolglik vorm raad aan beheerliggame oor die aankoop van goedere en dienste deel van FEDSAS se funksies. Teen hierdie agtergrond het FEDSAS en die Mededingingskommissie ’n memorandum van ooreenkoms aangegaan, wat op 23 November 2018 in die Staatskoerant gepubliseer is.

’n Regsbeampte van FEDSAS, me. Juané van der Merwe, sê in terme van die memorandum van ooreenkoms kom FEDSAS en die Kommissie ooreen om mekaar by te staan en te ondersteun en om mekaar in te lig van optrede wat indruis teen die beginsels van die Mededingingswet en wat ouers kan benadeel.

“FEDSAS sal die Kommissie bystaan met ondersoeke waar lidskole betrokke is. Ons provinsiale en nasionale strukture stel ons ook in staat om opleiding en onafhanklike regsadvies aan ons lede te verskaf. Op dié manier kan ons beheerliggame help om hul funksies uit te voer sonder om die wet te oortree.”

“Onderwys is ’n basiese mensereg en die koste van bywoning van ’n openbare skool mag kinders nie verhoed om toegang tot gehalte-onderrig te kry nie. Dit is ons plig om toe te sien dat die koste van ’n skooluniform, skryfbehoeftes of elektroniese toerusting nie toegang tot onderwys belemmer nie. FEDSAS sal voortgaan om op innoverende wyse met rolspelers saam te werk om gehalte-onderwys in openbare skole te verseker,” sê Deacon.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid