Artikel

Beheerliggame ’n sleutelaspek in moedertaalonderrig, sê FEDSAS

19/02/2018 - Fedsas


Die voordele van ’n veeltalige samelewing is welbekend. Navorsing bewys dat die vermoë om meer as een taal te kan praat, sosiale en persoonlike sowel as akademiese en professionele waarde het. Met die viering van Wêreldmoedertaaldag op 21 Februarie, fokus die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) vanjaar op veeltalige onderrig.
           
“Met veeltalige onderrig bedoel ons dat kinders die reg het om te kan kies in watter taal hulle onderrig ontvang. Politieke druk laat ons soms vergeet van die feit dat die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel veeltaligheid as grondslag het – daar is reeds skole in al elf amptelike landstale beskikbaar,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS.
           
Deacon sê die uitdaging is nie soseer die beskikbaarheid van moedertaalonderrig nie, maar wel die beskikbaarheid van gehalte-onderrig in al elf landstale. “’n Skool se taalbeleid is maar een rede hoekom ouers en kinders ’n bepaalde skool verkies. Die deurslaggewende faktor is eerder gehalte-onderrig. Met ons fokus op veeltalige onderrig wil FEDSAS vanjaar sê dat dit rolspelers se plig is om toe te sien dat daar topskole beskikbaar is in ál die landstale. Dit is die enigste manier om te verseker dat kinders gehalte-onderrig in hul moedertaal ontvang.”
           
Die driejaarlikse skoolbeheerliggaamverkiesing vind volgende maand plaas. Die bepaling van ’n skool se taalbeleid is een van die funksies van ’n skoolbeheerliggaam. “Indien ouers en rolspelers uit ’n bepaalde skoolgemeenskap van mening is dat hul skool nie gehalte-onderrig bied nie, bied die beheerliggaamverkiesing aan hulle die geleentheid om in te gryp. Pleks daarvan dat ouers toustaan om kinders na goeie skole te stuur waar hulle in ’n tweede taal onderrig ontvang, kan hulle ’n daadwerklike poging aanwend om die skool in hul onmiddellike gemeenskap te omskep in ’n topskool.”
           
Hier speel FEDSAS ’n belangrike rol in die toerus van beheerliggaamlede. Een van die vele projekte om die gehalte van skoolbeheer en –bestuur te verseker is die saamstel van ’n handleiding vir skoolbeheerliggame. ’n Praktiese handleiding oor skoolbeheer is in ses tale beskikbaar, naamlik Engels, Afrikaans, Sesotho, Setswana, isiXhosa en isiZoeloe. Dit sal egter binnekort in al elf tale beskikbaar wees.
           
“Inligting rakende skoolbeheer en –bestuur is dikwels redelik tegnies van aard. Gehalte-onderrig is direk afhanklik van gehalte-bestuur en daarom was dit vir FEDSAS belangrik om die inligting so toeganklik moontlik te maak,” sê Deacon.
           
Die handleiding bied ’n kort oorsig oor die kernaspekte van skoolbeheer en is die ideale vertrekpunt vir nuutverkose beheerliggaamlede en selfs ervare lede wat hul kennis en ervaring verder wil verbreed.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid