Artikel

Gauteng-onderwysdepartement se e-platform vir skoolaansoeke nou gereed, sê FEDSAS ná suksesvolle toetslopie

16/05/2019 - Fedsas


Die e-platform vir skoolaansoeke in Gauteng sal volgende Maandag (20 Mei 2019) oopgestel word vir aansoeke om toelating vir 2020. Dit volg nadat die platform hersien is om probleme aan te spreek wat deur die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) uitgewys en onder die Gauteng-onderwysdepartement se aandag gebring is.
           
“FEDSAS het gister (15 Mei 2019) weer met die departement vergader en ons is tevrede dat die platform nou aan ouers die nodige keuses bied soos wat bepaal word deur die Grondwet,” sê mnr. Paul Colditz, uitvoerende hoof van FEDSAS. Colditz sê FEDSAS se Bestuurder: Onderwystegnologie, mnr. Riaan van der Bergh, was deurentyd betrokke by verskeie vergaderings en toetslopies saam met die departement.
           
“FEDSAS en die Gauteng-onderwysdepartement het werklik as vennote saamgewerk om toe te sien dat ouers keuses kan uitoefen wat in die beste belang van hul kinders sal wees. Dit is hoe ons die gehalte van onderwys in Suid-Afrika gaan verbeter,” sê Colditz.
           
Colditz sê met die platform wat ouers in staat stel om keuses uit te voer, rus die onus nou op ouers om toe te sien dat hulle op hoogte is van hoe om te werk te gaan om die platform te gebruik, asook om seker te maak dat hulle die nodige inligting inwin oor aspekte soos die taalbeleid en vak-opsies van die skole waarin hulle belang stel. Colditz moedig ouers aan om die video op die platvorm te kyk voordat hulle met die aansoekproses begin. “Dit verduidelik stap-vir-stap hoe om die platform te gebruik ten einde seker te maak dat die aansoek korrek gedoen en so spoedig moontlik afgehandel kan word.”
           
Aanvanklike probleme met die platform het onder meer meegebring dat alle skole in ’n aansoeker se voedersone nie volledig gelys is nie. Colditz sê die departement het ook ’n appèlproses daargestel wat aansoekers in staat stel om die uitslag van toelatingsaansoeke te betwis.
           
“Die aantal leerders en die beskikbare plekke in veral skole wat gehalte-onderrig bied, kompliseer die toelatingsproses. Dit bly dus FEDSAS se hoofprioriteit om toe te sien dat meer en meer skole goed funksioneer. Hoe meer goeie skole daar is, hoe makliker sal dit die toelatingsproses maak.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid