Artikel

Gauteng-onderwysdepartement stel aansoeke met week uit om e-platform te toets ná vergadering met FEDSAS

10/05/2019 - Fedsas


Die oopstel van die e-platform vir skoolaansoeke in Gauteng is met ’n week uitgestel tot 20 Mei om probleme met die stelsel reg te stel. Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS) het vanoggend (10 Mei 2019) ’n produktiewe vergadering met die Gauteng-onderwysdepartement gehad om die probleme en oplossings te bespreek.

“Die aansoeke, wat slegs op hierdie platform gedoen kan word, sou aanvanklik op Maandag, 13 Mei 2019, geopen het. ’n Toetslopie, waarby FEDSAS betrokke was, het egter probleme met die struktuur en funksionering van die platform aan die lig gebring,” sê Paul Colditz, hoof van FEDSAS. Colditz sê die funksionering van die platform strook nie tans met die bepalings van onder meer die Gautengse toelatingsregulasies, die Grondwet en die Norme en Standaarde vir Taalbeleid nie. “Dit is veral rondom die voedersones van skole waar daar tegniese probleme is wat byvoorbeeld veroorsaak dat al die skole in ’n aansoeker se onmiddellike omgewing nie volledig gelys word nie.”

Colditz sê tydens vanoggend se vergadering het die departement te kenne gegee dat hulle reeds begin het om die probleme soos deur FEDSAS uitgewys, reg te stel en onderneem om die stelsel aan te pas en op te volg met nog ’n toetsfase in samewerking met FEDSAS. “FEDSAS sal deurentyd hierby betrokke wees om toe te sien dat ouers wel keuses kan uitvoer soos wat deur die toepaslike regsvoorskrifte bepaal word.”
           
Colditz sê sou die probleme nie opgelos word nie en ouers verhoed word om keuses oor aansoeke uit te oefen, is regsaksie nie uitgesluit nie. “FEDSAS beskou dit egter as ’n laaste uitweg. Die organisasie het ’n goeie werksverhouding met die Gauteng-onderwysdepartement en ons verkies om as vennote te handel.”
           
Colditz het dit duidelik gestel dat die beste belang van die kinders egter altyd die eerste en enigste oorweging moet wees. Daarom het FEDSAS ’n inligtingstuk en ander dokumentasie op sy webblad by www.fedsas.org.za  beskikbaar gestel. Ouers kan hierdie inligting gebruik om beswaar aan te teken sou aansoeke onsuksesvol wees as gevolg van tegniese probleme met die e-platform.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid