Artikel

Vrystaat-skole staar sluiting in gesig weens wanbetaling deur provinsiale onderwysdepartement, sê FEDSAS

20/04/2017 - Fedsas


Verskeie skole in die Vrystaat, veral die sogenaamde geen-fooi-skole, word deur sluiting in die gesig gestaar. Dié benarde situasie is die direkte gevolg van die Vrystaatse Onderwysdepartement se nalatigheid met die jaarlikse oorbetalings aan skole. Provinsiale onderwysdepartemente is verantwoordelik om twee keer per jaar geld van die Nasionale Tesourie aan skole te betaal. In die Vrystaat word hierdie betalings elke kwartaal gedoen, maar die laaste betaling aan skole is in die derde kwartaal verlede jaar gedoen. Skole gebruik hierdie geld vir bedryfsuitgawes soos water en elektrisiteit, skryfbehoeftes, ens.

“Ons is bewus van ? skool wat tans net sowat R400 in hulle bedryfsrekening het. In ? ander geval het ? skoolhoof die skool se elektrisiteitsrekening uit haar eie sak betaal net sodat skoolbedrywighede kan voortgaan. In nog ? geval het ? ouer ? hele skool se skryfbehoeftes betaal net sodat onderrig kan plaasvind,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS).

Deacon sê die Nasionale Tesourie betaal jaarliks op 1 April die geld aan provinsiale onderwysdepartemente oor. “Die meeste onderwysdepartemente is traag om dan die geld na skole te versprei, wat beteken die nuwe jaar se geld word gebruik om die vorige jaar se skuld te delg. In die Vrystaat het dít nie eens gebeur nie.”

FEDSAS het reeds in die verlede verskeie pogings aangewend om saam met die Vrystaatse Onderwysdepartement te werk in ? poging om probleme op te los. “Ons kry egter geen samewerking van die departement nie en het dus nou geen ander keuse as om ? dringende aansoek voor die hof te bring nie. Hierdie wanbetaling tas kinders se grondwetlike reg op onderrig aan. Skole, veral geen-fooi-skole, sukkel reeds om kop bo water te hou en vir talle gaan daar binnekort geen ander uitweg wees as om die skool te sluit nie,” sê Deacon.

Deacon sê FEDSAS verkies om onderwyskrisisse buite die hof deur middel van samewerking op te los. “Die belange van die kinders kom egter altyd eerste en in hierdie geval is die krisis nou van só ? aard dat FEDSAS drastiese stappe sal moet neem.”

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid