Artikel

Vrystaatse Hooggeregshof lewer uitspraak oor toelating van leerder jonger as verpligte skoolouderdom

20/08/2016 - Fedsas


’n Hofgeding rondom ’n aansoek om ’n vyfjarige tot Graad 1 aan die Laerskool St. Helena in Welkom toe te laat, het vandag in die Vrystaatse Hooggeregshof tot ’n einde gekom. Die saak het sy oorsprong in Augustus verlede jaar toe ’n ouer aansoek gedoen het om toelating tot Graad 1 vir sy kind. Die kind word egter eers in November vanjaar ses jaar oud en was vier jaar oud ten tyde van die aansoek in Augustus 2015.

“Die skool se toelatingsbeleid, wat gebaseer is op riglyne van die onderwysdepartement en die bepalings van die Skolewet, stel dit duidelik dat leerders wat sewe jaar oud word in Graad 1 voorkeur kry in terme van toelating,” sê dr. Jaco Deacon, adjunkhoof van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (FEDSAS). Die beheerliggaam van die Laerskool St. Helena is ’n lid van FEDSAS.

Deacon sê St. Helena se toelatingsbeleid is in lyn met die Vrystaatse onderwysdepartement se bepaling dat voorkeur gegee moet word aan kinders van verpligte skoolouderdom in gevalle waar plek ’n probleem is. “Op grond hiervan is die ouer se aansoek om toelating dus geweier. Die ouer het egter glo by die Vrystaatse onderwysdepartement teen die beheerliggaam se beslissing geappelleer, hoewel die beheerliggaam nooit enige dokumentasie in hierdie verband ontvang het nie. Die Vrystaatse onderwysdepartement het bloot die skool opdrag gegee om die leerder vanaf die derde kwartaal vanjaar tot die skool toe te laat.”

In sy uitspraak sê die hooggeregshof dat die skoolbeheerliggaam se beslissing – om nie die kind toe te laat nie – korrek was. Die hof het ook beveel dat die Vrystaatse onderwysdepartement die regskoste betaal.
Deacon sê die Skolewet bepaal wel dat kinders jonger as die verpligte ouderdom in uitsonderlike omstandighede tot Graad 1 toegelaat mag word. Bewyse hiervoor moet egter voorgelê word. “Die deurslaggewende bepaling bly egter dat die skool voorkeur moet gee aan kinders van verpligte skoolgaande ouderdom. In die geval van die Laerskool St. Helena se toelatingsgetalle vir 2016 moes talle kinders wat wél die regte ouderdom was óók weggewys word omdat die skool reeds die volle kapasiteit bereik het.”

Die skoolbeheerliggaam het streng binne die bepalings van die Skolewet opgetree. “Die departement se besluit om ’n skool te dwing om ’n vyfjarige kind ná die helfte van die skooljaar toe te laat is egter kommerwekkend. Dit is moeilik om te sien hoe so ’n stap nié nadelige gevolge vir die kind sal inhou nie. Die belange van die kind moet altyd die eerste oorweging in enige besluit wees,” sê Deacon.

Copyright FEDSAS 2024 | NPO Registration No. 128-598NPO | NWO-registrasienr 128-598NPO | Privaatheidsbeleid